Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ál meer vroue leer om hulself te verdedig

Al hoe meer vroue in Kaapstad neem klasse in selfverdediging te midde van die toename in geslagsgeweldmisdade oor die land heen.

’n Vrou verdedig haarself tydens ’n klas by Truekrav.

Etienne Ferreira, eienaar van die gevegskunsskool Truekrav, het Dinsdag gesê dat hulle eers sowat 60 vrouelede gehad het, maar ná verlede week se betogings teen geslagsgeweld het minstens nog 100 vroue hulle by die klasse aangesluit.

Hy sê hulle bied Dinsdagaand ’n gratis bewustheidsklas aan en dat hulle meer as 120 vroue by die klas verwag.

Ferreira sê vroue word op die harde manier in hul klasse opgelei en dat dit harde oefening verg.

“Ons is vasbeslote dat vroue net so hard soos mans, of selfs harder, moet oefen. Dit sal altyd ’n ongelyke geveg wees as ’n vrou teen ’n man moet baklei.”

Een van die belangrikste beginsels wat hulle vroue leer, is om vir hul lewe te baklei en nie vir hul besittings nie.

“Ons maak vroue altyd bewus daarvan dat hulle in die proses beserings kan opdoen. Dit is oukei om seer te kry as dit beteken jy gaan oorleef, maar nie as dit vir ’n handsak of selfoon is nie,” sê Ferreira.

Clarissa Berndl, instrukteur by die Elite Defence Academy in Kaapstad, stem saam dat meer vroue hulle deesdae by klasse in selfverdediging aansluit.

“Daar is beslis ’n toename in vroue wat navraag doen oor selfverdedigingsklasse. Ek dink vroue vrees vir hul lewe en wil leer hoe om hulself te beskerm. Vroue wil in staat wees om iets te doen en wil nie (die) volgende (slagoffer) wees nie,” sê sy.

Ons maak vroue altyd bewus daarvan dat hulle in die proses beserings kan opdoen.

Hulle bied klasse oor Suid-Afrika heen aan. In die Wes-Kaap is daar sowat 400 studente van wie minstens 70% vroue is, sê Berndl.

Sy sê hul leerplan is toepaslik ten opsigte van die tipiese misdaadvoorvalle in Suid-Afrika. Wanneer hulle van ’n nuwe voorval bewus word, maak hulle altyd seker dat dit in die leerplan is.

Marco Kavalieratos, stigter van die Chinese Martial Arts and Health Centre, beaam dit en sê daar is definitief ’n toestroming van vroue wat in selfverdedigingsklasse eerder as in gevegskuns soos karate belang stel.

’n Vrou word by Truekrav geleer wat om te doen as sy met ’n vuurwapen gedreig word.
’n Vrou word tydens haar opleiding by Truekrav geleer wat om te doen as sy van agter aangeval word. Foto: Facebook
Vroue word opgelei by die Elite Defence Academy in Kaapstad. Foto: Facebook

Kenneth Petersen, hoofinstrukteur van die Cape Town Self Defense Institute, sê meer vroue bel nou daagliks om navraag oor klasse te doen.

“Daar is ma’s wat bang is vir hul kinders (se veiligheid),” sê Petersen.

Ferreira sê vroue word geleer om op te let waarmee hulle aangeval word sodat hulle beheer oor die situasie kan kry deur byvoorbeeld hul aanvaller te ontwapen.

Hulle word ook geleer hoe om wapens soos pangas, messe en vuurwapens te hanteer nadat hulle dit by hul aanvaller afgeneem het.

Hy sê slagoffers moet ook altyd hul aanvaller verras met ’n teenaanval deur te mik vir kwesbare areas soos die keel, agterkop of niere.

Brendl sê op hul beurt leer hulle vroue hoe belangrik dit is om van jou omgewing bewus te wees omdat dit kan help om baie aanvalle te voorkom.

Meer oor:  Kaapstad  |  Selfverdediging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.