Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Al RSG se omroepers kry briewe

Van die 14 permanente werknemers van Radio Sonder Grense (RSG) het 12 afleggingsbriewe ontvang.

Dit sluit in al die permanente omroepers: Martelize Brink, Haidee Muller, Johan Rademan, Jacqui January en Fritz Klaaste.

Die SAUK het vandeesweek aangekondig dat hy 400 van sy 3 000 personeellede gaan aflê om koste te besnoei.

Die openbare uitsaaier het verlede jaar ’n reddingsboei van R3,2 miljard van die staat ontvang op voorwaarde dat hy besnoeiings doen.

Magdaleen Krüger, stasiebestuurder by RSG, sê die personeel van RSG, asook dié van ander radiostasies en afdelings, is geskok oor die besnoeiings.

Martelize Brink

“Ek besef die SAUK moet geld bespaar, maar ek het ’n probleem met die koue manier waarop dit gedoen is. Niemand kon insette lewer nie en hulle het nie vooraf met die stasies daaroor gesels nie,” sê sy.

Personeel kan wel van 1 Desember af aansoek doen vir poste in die “nuwe struktuur” nadat dit geadverteer word. Omroepers sal egter net op ’n vryskut-grondslag benut word.

Volgens Krüger sal die nuwe poste se salarisvlakke laer wees en boonop sal die span met minstens twee of drie werkers minder moet klaarkom.

“By RSG is ons programme inhoud-intensief, wat ’n groter span verg. Ons probeer vergaderings reël om ons kant van die saak te stel, maar ek het nie veel hoop nie.”

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, het Woensdag bevestig dat die afleggings voortgaan.

Verwarring het Dinsdag ontstaan toe Phathiswa Magopeni, die hoof van nuus en aktuele sake, op ’n vergadering met ontstoke nuuspersoneel glo onderneem het om die afleggingsbriewe terug te trek.

Beeldmateriaal van dié vergadering is intussen op sosiale media versprei, waarin die TV-joernalis Chriselda Lewis uitvaar en sê die raad moet sy struktuur vat en padgee.

“Ons was hier op die skip lank voordat julle aangestel is. Ons het die skip aan die lewe gehou. Ons het tydens die koronavirus gewerk en ons was in sale by mense wat die koronavirus opgedoen het,” het Lewis gesê.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het Woensdag in ’n sitting van die ooreenstemmende parlementêre portefeuljekomitee gesê die SAUK-raad is verdeeld oor die afleggingsproses.

Sy het vandeesweek op ’n dringende vergadering die raad versoek om eers alle ander opsies te oorweeg voordat hy poste verminder.

Phumzile van Damme, DA-LP, het benadruk dat Suid-Afrika die SAUK nie nog ’n reddingsboei kan gee nie.

Sy is ook besorg daaroor dat Ndabeni-Abrahams haar inmeng by die SAUK wat veronderstel is om onafhanklik te funksioneer.

Magdaleen Krüger.

Die minister meen egter dat die situasie ingryping binne die raamwerk van die wet vereis.

“As departement kan ons nie bloot op die kantlyn staan nie. Ons moet almal saamwerk om oplossings te vind,” sê sy.

Die SAUK sou Woensdagaand in ’n geslote sitting met die portefeuljekomitee vergader.

Intussen het vakbonde en die drieparty-alliansie oor die afleggings uitgevaar en oor die manier waarop dit aangepak word.

Die sekretariaat van die ANC, die SAKP en die vakverbond Cosatu, het in ’n gesamentlike verklaring solidariteit met die SAUK-werkers betuig.

“Die sekretariaat verwerp die onversetlikheid van diegene wat die afleggings en die neoliberale herstrukturering by die SAUK dryf,” lui die verklaring.

Hannes Du Buisson, uitvoerende hoof van die Broadcasting Electronic Media Allied Workers Union, het by navraag beweer dat die SAUK nooit met vakbonde oor die afleggings gekonsulteer het nie en het ook nie hul insette in ag geneem nie.

Makhathini sê die raad het niks met die insette van vakbonde te doen nie, en dat dit die verantwoordelikheid van die bestuurspan is.

Volgens hom is die afleggings noodsaaklik om die openbare uitsaaier se kop bo water te hou aangesien daar die afgelope drie jaar al oor die herstruktureringsproses gepraat word.

Makhathini sê daar word geprojekteer dat die SAUK die einde van die huidige boekjaar R1,2 miljard in die rooi sal afsluit.

“As ons nie voortgaan met die beoogde besnoeiings nie, kan die SAUK ineenstort. Ons soek nie ’n situasie soos met Denel of die SAL waar ons nie salarisse kan betaal nie,” sê hy.

Prof. Arrie de Beer, ’n voormalige raadslid van die SAUK, sê Suid-Afrika kan nie sonder ’n openbare uitsaaier nie.

“In vergelyking met private mediamaatskappye lewer ’n openbare uitsaaier meer dikwels dienste waar dit in die openbare belang is, maar nie noodwendig winsgewend is nie,” sê De Beer.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het op sy beurt ’n beroep gedoen dat die besluite oor die herstrukturering nie die nuusdekking ontwrig nie.

As ons nie voortgaan met die beoogde besnoeiings nie, kan die SAUK ineenstort. Ons soek nie ’n situasie soos met Denel of die SAL waar ons nie salarisse kan betaal nie.

Sedert die inperking op 23 Maart aangekondig is, het meer as 700 werknemers in die media in Suid-Afrika hul werk verloor.

Dis nie net die Covid-19-krisis wat druk op die mediasektor plaas nie. Die afgelope drie jaar het talle joernaliste weens afleggings by onder meer die destydse Tiso Blackstar, Media24, Independent Media en die sluiting van Afro Worldview, voorheen bekend as ANN7, hul werk verloor, lui die verklaring.

Meer oor:  Afleggings  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.