Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Alex vaar weer die strate in oor swak dienslewering

Inwoners van Alexandra in die noorde van Johannesburg het Woensdag weer die strate ingevaar weens ’n gebrek aan dienslewering.

Thandiwe Mthombeni, ’n inwoner wat saam met die Alex Total Shutdown-beweging na die munisipale kantoor in Sandton opgeruk het om ’n griefskrif te oorhandig, sê nog niks het verander sedert die eerste betoging maande gelede nie.

Inwoners van Alexandra het Woensdag weer teen swak dienslewering betoog. Foto: Felix Dlangamandla

Die Alex Total Shutdown-beweging is in April begin uit protes teen swak dienslewering, misdaad en ’n tekort aan behuising in Alexandra.

“Daar is geen ontwikkeling in Alexandra nie. Dienslewering gaan agteruit en ons is keelvol vir Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, se beloftes oor behuising vir buitelanders,” sê Mthombeni.

Mthombeni sê niemand gee aandag aan hul griewe nie.

“Die munisipaliteit versuim om sy werk te doen. Rioolwater loop in die strate af, ons vullis word nie verwyder nie en die behuisingskrisis raak al hoe erger.

“Ons was baie bly oor die strukture wat afgebreek is, maar nou wil Mashaba dit herbou. Dit is onregverdig, want nou gaan buitelanders hierby baat vind terwyl inwoners van Alexandra jare lank op ’n waglys is.”

Netwerk24 het voorheen berig oor inwoners wat kla nadat buitelanders onwettige strukture in Alexandra opgerig het.

“Mashaba maak beloftes aan onwettige immigrante, maar versuim om aandag aan inwoners te gee wat reeds jare lank op ordentlike huise wag.”

Mthombeni sê inwoners het steeds dieselfde probleme en dieselfde griewe en hulle hoop Woensdag se betoging werp vrugte af.

Lede van die Alex Total Shutdown-beweging het bande gebrand in ’n betoging Woensdag. Foto: Felix Dlangamandla
Ontevrede inwoners van Alexandra het hul misnoeë met ’n betoging gewys. Foto: Felix Dlangamandla

“Ministers, die premier en die burgemeester het beloof om op te tree, maar ná die verkiesing het ons hulle nie weer gesien nie.

Mashaba het Woensdag geweier om die inwoners te woord te staan.

“Die beweging se belange stem nie ooreen met die inwoners van Alexandra se belange nie.”

Hy sê daar is geen twyfel daaroor dat inwoners in haglike omstandighede leef nie en dat die veelpartyregering hard sal werk om veranderinge in Alexandra teweeg te bring nie.

Volgens News24 het die polisie en die betogers slaags geraak toe hulle daarop aangedring het om na die munisipale kantoor in Sandton te gaan. Daar was ’n sterk polisieteenwoordigheid voor die kantoor in Daisy-straat.

Die betogers moes egter die aftog blaas en News24 berig dat hulle toe na die Sandton-polisiekantoor beweeg het waar hulle glo ’n klag teen Mashaba aanhangig wou maak omdat hy nou onder meer ooreengekom het om die onwettige strukture te herbou.

Inwoners eis beter dienste in Alexandra. Foto: Felix Dlangamandla
Inwoners van Alexandra het Woensdag teen swak dienslewering betoog. Foto: Felix Dlangamandla
Inwoners van Alexandra is steeds ontevrede oor swak dienslewering. Foto: Felix Dlangamandla
Lede van die Alex Total Shutdown-beweging en inwoners van Alexandra het na die munisipale kantoor in Sandton opgeruk. Foto: Felix Dlangamandla


Meer oor:  Alexandra  |  Johannesburg  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.