Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Alles is toe in ’n oogwink daarmee heen’

Voedselvervaardigers moes verlede week tonne bederfbare kos weggooi of weggee omdat die regering vir ’n week lank nie daarin kon slaag om die N3-hoofweg tussen Johannesburg en Durban se hawe oop te stel nie.

Werkers sorteer eiers wat na kruidenierswarewinkels versprei word by die Nutrifresh-eierfabriek in Howick, KwaZulu-Natal. Foto’s: Deon Raath

Suiwel-, vark- en eierprodusente sê hulle moes reusagtige logistieke koste aangaan om alternatiewe markte vir hul produkte te vind en ompaaie gebruik om hul produkte by verbruikers te kry.

Die N3 is verlede Vrydagmiddag ná sewe dae vir die eerste keer heropen nadat bendes vroeër vragmotors op dié hoofweg geplunder en aan die brand gesteek het.

Volgens die Padvragvereniging word R3 miljard se vrag daagliks op die N3 tussen Durban en Johannesburg vervoer.

Ivo Buratovich, uitvoerende hoof van die Fairfield Dairy-suiwelfabriek in Howick, langs die N3, sê dit is onaanvaarbaar en onverskoonbaar dat die “slagaar van die land se ekonomie” vir sewe dae lank nie gebruik kon word nie.

“Hulle kon die snelweg binne ’n dag beveilig het. Enigiemand met ’n militêre agtergrond weet dat ’n helikopter wat die snelweg patrolleer al was wat nodig was om reg en orde vinnig te herstel.

‘Hulle kon die N3 in een dag beveilig het.’

“Hoekom kon wetstoepassers dit nie regkry nie?”

Buratovich sê omdat hul suiwelprodukte volgens ’n “net betyds”-beginsel geproduseer en afgelewer word, het die week lange sluiting van die N3 daartoe gelei dat hulle bederfbare melkprodukte van R10 miljoen moes weggee of weggooi.

“Dit was goed vir arm mense om gratis kos te kry, maar dit is baie sleg vir ons.”

Hy sê dit is hartverskeurend dat boere, wat melk aan hulle verskaf, meer as 150 000 liter melk in ’n dag en ’n half moes weggooi. “Hoe moet ek by hulle uitkom as die paaie versper en gesluit is, terwyl die koeie nie ophou melk produseer nie?”

Hy sê 184 Spar-winkels in die provinsie wat sy produkte koop, is geplunder of afgebrand. “Dit is ’n derde van my kleinhandelsafsetpunte wat daarmee heen is. Ek verwag dat dit op lang termyn ’n reuse-impak gaan hê op my volumes. Hoe herstel jy daarvan?”

Philip Benson, besturende direkteur van Spurwing Horse Feeds in Howick.

Hy moes reeds sy werkmag van 430 tot 380 verminder.

Philip Benson, besturende direkteur van Spurwing Horse Feeds, ’n veevoer-en-varkvleis-produseerder in Howick, sê hulle het duisende rand se skade gely omdat die produksie van hul varkvleis deur die sluiting van slagpale onderbreek is wat geplunder en afgebrand is.

Hul voorraad koring, semels en verpakking vir die vervaardiging van perdevoer wat van Durban kom het opgedroog en hulle kon nie hul produkte op die mark kry nie.

Hy sê hulle het ’n groot gedeelte van hul mark verloor omdat hul produkte ’n tyd lank nie beskikbaar was nie en winkels wat hul produkte gekoop het, geplunder en afgebrand is.

“Ons het verlede week al ons aandag op die beveiliging van ons dorp gevestig. Ons het in skofte van vier uur gewerk en saans die dorp patrolleer.

“Ons het omtrent niks geslaap nie.”

Pam Passmoor, DA-wyksraadslid in Hilton, KwaZulu-Natal, in ’n gemeenskapsentrum waar kosvoorraad vir hulpbehoewendes gestoor word.

Robin Barnsley, eienaar van die Nutrifresh-eierfabriek in Howick, sê daar is ’n geweldige groot tekort aan eiers in die provinsie en sy grootse probleem was om eiers by boere te kry en te versprei omdat die N3 en ander verkeers-roetes gesluit was.

“Die vraag na eiers het die hoogte ingeskiet, omdat jy dit nie soos ander proteïen moet verkoel nie.”

Hy sê heelwat Pick n Pay- en Boxer-winkels wat sy eiers koop, het afgebrand en hy moes kaste eiers by vulstasies en ander afsetpunte aflaai sodat mense kos in die hande kon kry.

“Ons moes al die pad op grondpaaie ry om eiers by mense op die platteland uit te kry. Dit was ’n logistieke nagmerrie,” sê hy.

“Dit was als totaal onnodig. Enige idioot kon vooraf vir jou sê hier kom moeilikheid, maar die polisie en die weermag was nêrens. Dit maak net nie sin nie.”

Meer oor:  N3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.