Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tog met Boerperd aangepak om geld vir oog-operasie in te samel

Dié berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

’n Boerperdreun van Upington in die Noord-Kaap, wat blind is in sy een oog, gaan ’n tog aanpak om geld in te samel sodat ’n bejaarde van Kakamas die sig in sý enigste oog kan behou.

Die perd, SAB Krog DJ Cloete, en sy eienaars, Meeghan Swiegelaar en Dries Louw, help jaarliks om geld vir een of ander liefdadigheidsorganisasie in te samel.

“Vanjaar het ons besluit om vir oom Dirk Taljaard (67) te help wat dringend ’n operasie benodig. As die prosedure nie uitgevoer word nie, sal hy heeltemal blind wees,” sê Swiegelaar.

Dries Louw en Meeghan Swiegelaar staan by Cloete, die boerperdreun wat 'n blinde oog het en gaan help om geld in te samel vir Dirk Taljaard wat 'n oogoperasie moet ondergaan. Foto: Anena Burger

Sy en Louw het gedink dit sou spesiaal wees as Cloete kon help aangesien hy ook blind in een oog is.

Cloete het sy sig verloor nadat hy tydens ‘n enkeltuig-karretjie skou beseer is.

Swiegelaar en Taljaard se kleindogter, Marlé Brits, pak die projek saam aan.

Die jong ruiters by Swiegelaar se perderyskool sal die tog aanpak. “Dit sal vanaf Louisvale tot Kakamas wees, en ons ruitertjies sal beurte maak om op Cloete op die Neusgrondpad tot in Kakamas te ry.” Swiegelaar nooi ook drawwers, stappers en fietsryers om deel te neem.

Stappers kan vir 5 km saam met Cloete stap wanneer hy op 20 Februarie om 06:00 uit Louisvale vertrek en die drawwers spring om 07:00 op die Neilersdrift-grondpad weg en sal ’n roete van 15 km volg wat in die Oranjerus-kampeeroord sal eindig.

’n Cloete-taxi sal die stappers oplaai en na die kampeeroord terugneem. Die roete eindig by die NG kerk in Neilersdrift in Keimoes waarna ’n braaivleis by die Oranjerus-kampeeroord gehou gaan word.

Die Sondag sal die fietsryers Cloete help en aan ’n 30 km-roete en 15 km-roete deelneem wat vanaf die Kalahari Gateway Hotel in Kakamas sal wegtrek.

Cloete en sy ruiters sal vanaf die NG kerk in Neilersdrift vertrek. Nog ‘n groep stappers sal saam met hulle van hier af stap en by die hotel in Kakamas eindig, waar die geld wat deur inskrywings vir die draf-, stap- en fietsrynommers en ook enige instansies wat die projek wil borg aan oom Dirk oorhandig sal word. ‘n Braai sal ook by die hotel gehou word.

Buiten die tog is ‘n bekende skilder, wat se naam eers later bekendgemaak word, besig om ‘n skildery van SAB Krog DJ Cloete te skilder wat opgeveil sal word om tot die insameling by te dra.

Taljaard moet op 23 Februarie geopereer word. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.