Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Almal moet saamwerk aan Afrikaans’
Prof. Francis Petersen (links), rektor van die Universiteit van die Vrystaat, by vanjaar se D.F. Malherbe-gedenklesing. By hom is Bettina Wyngaard (middel), skrywer en regsgeleerde, wat die gasspreker was, en prof. Angelique van Niekerk, hoof van die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV. Foto: Maricelle Botha

In die lig van die toenemende gesprek oor taal, en die stand van Suid-Afrikaanse tale, het die bekroonde skrywer en regsgeleerde van beroep, Bettina Wyngaard, Donderdag (17 Mei) tydens die 34ste DF Malherbe-gedenklesing van die Universiteit van die Vrystaat gesê sy is glad nie bekommerd oor die behoud van Afrikaans nie.

Die onderwerp van die lesing was “Die politiek van die alledaagse” en het gehandel oor die gewone persoon op straat se bydrae tot ons samelewing en ook meer spesifiek Afrikaans.

Wyngaard, 'n bekroonde skrywer, meen taal word al meer ’n slagveld waar ons mekaar verwond en probeer doodmaak en dat een manier om mekaar in ag te neem, is om mekaar se taal te erken.

“Is dit nie waar ons as Afrikaanssprekendes soms die pot missit nie? Ons verwag dat ons regte om ons taal te gebruik erken moet word, maar ons disregard ander se tale. Hoeveel van ons is in staat om ten minste te groet in tale anders as Engels en Afrikaans? Hoeveel van ons probeer basiese taalvaardigheid in ’n derde en vierde landstaal opdoen?” wou sy weet.

Sy sê sy is nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. “Ek is heeltemal bewus van die argumente dat sodra ’n taal sy funksie van hoër onderrig verloor, dit die begin van die einde vir daardie taal is. Net die houding van partye tot die saak kan die taal vernietig.”

Sy meen amptelike beleid kan nie ’n taal vernietig nie, net die houding van die amptenare wat die beleid toepas, kan die taal skaad. Goeie opbouende verhoudinge gebaseer op respek kan houdinge en verhoudinge verander.

“Die doeltreffendste manier om ’n taal te vernietig is om te kies om dit nie te praat nie. Ons doen ook die taal skade aan wanneer ons voorskriftelik wil wees oor wie nou eintlik die taal mag praat, of hoe die taal gepraat moet word. Of, en dit is baie keer die groot probleem, om die konserwatiewe sektor van die taalgemeenskap carte blanche te gee asof hulle namens die hele groep praat. Evil triumphs when good men (and women) do nothing.”

Wyngaard sê ons moet sensitief wees vir die feit dat juis omdat die taal so swaar dra aan die bagasie van die verlede ons ’n verantwoordelikheid het om in elke interaksie met ander as ambassadeurs van die taal op te tree.

Ek is heeltemal bewus van die argumente dat sodra ’n taal sy funksie van hoër onderrig verloor, dit die begin van die einde vir daardie taal is. Net die houding van partye tot die saak kan die taal vernietig.

Dit beteken dat ons moet onthou dat met elke interaksie van ons, reg of verkeerd, die groep beoordeel word volgens die manier waarop die individu optree.

“Afrikaanssprekendes kan nie nou verantwoordelikheid abdikeer deur die spreekwoordelik baton aan te gee vir bruinmense, soos wat Antjie Krog en Tim du Plessis voorstel nie. Ons almal, wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes moet saamwerk om die taal in ere te herstel. Ons almal het ’n bydrae om te lewer.”

Sy sê van die 11 amptelike tale in ons land, het net twee ooit die voorreg gehad om die onderrigtaal aan universiteite te wees. Die ander nege floreer steeds omdat die sprekers van daardie tale dit gebruik in hul daaglikse wandel.

Wyngaard wil egter weet of ons as Afrikaanssprekendes nie meer legitieme beskerming aan Afrikaans sou verleen nie as ons in alle erns daadwerklik optree om ander tale op te hef en te beskerm?

“Dink net watter positiewe impak dit kan hê indien Afrikaanssprekendes byvoorbeeld help om te verseker dat boeke in Sotho of in Xhosa of in Zulu gepubliseer word, of hul kundigheid op ander maniere beskikbaar maak om die tale te bevorder. Dink hoeveel welwillendheid teenoor Afrikaanssprekendes, en per implikasie teenoor Afrikaans, daaruit kan voortvloei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.