Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Alternatiewe roete by Plet speel dalk rol in ongeluk wat 3 eis

Die alternatiewe roete naby Plettenbergbaai waarna die Eagle Liner-bus Vrydag weens betogings op die N2 herlei is, het dalk ’n rol in dié noodlottige ongeluk gespeel.

Die Eagle Liner-bus wat Vrydag op die alternatiewe roete naby Plettenbergbaai in die Wes-Kaap omgeval het. Drie mense is dood en 43 is in die ongeluk beseer.

Die bestuurder en twee ander passasiers is in die ongeluk dood en 43 passasiers is beseer. Die bus was uit Kaapstad na Port Elizabeth onderweg met 71 passasiers aan boord.

Die Bitou-munisipaliteit het Vrydag in ’n verklaring gesê die busbestuurder het moontlik weens die nat toestande by ’n skerp draai beheer oor die voertuig verloor. Die bus het toe omgeslaan.

Die beserings wissel van gering tot ernstig, met drie pasiënte wat in die George-hospitaal vir spesialisbehandeling opgeneem is, sê Nadia Ferreira, provinsiale woordvoerder van die gesondheidsdepartement.

Die ander 40 passasiers is in Knysna se provinsiale hospitaal opgeneem.

Altesame 23 mense is na die gemeenskapsaal in Plettenbergbaai geneem. Hulle is voor 10:00 met ’n ander bus na Port Elizabeth geneem.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, het by navraag gesê die oorledenes se identiteit sal eers bekend gemaak word sodra hul familielede in kennis gestel is.

Die Kwanokuthula-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Volgens Spies ondersoek hulle die oorsaak van die ongeluk.

Die N2 by Plettenbergbaai is reeds sedert Dinsdagaand gesluit nadat voorvalle van klipgooiery voorgekom het. Verkeer word sedertdien via Robbergweg herlei omdat die N2 by Rastas, oorkant Weldon Kaya, versper word, terwyl bande ook gebrand word.

Die Bitou-munisipaliteit het Donderdag in ’n verklaring gesê die betogings op die N2 naby Plettenbergbaai is nou bloot net vandalisme en misdadigheid.

Mense het op sosiale media gesê dié alternatiewe pad is baie gevaarlik, veral vir voertuie soos busse.

Soos vroeër berig het inwoners van Qolweni Dinsdag omstreeks 10:00 ’n optog na die munisipale kantoor in Plettenbergbaai gehou, waar ’n griefskrif aan Peter

Lobese, Bitou se burgemeester, oorhandig is. Die optog is beplan en toestemming is daarvoor deur die Bitou-munisipaliteit verleen. Inwoners is ontevrede oor behuising, mense wat in huise bly en hutte uitverhuur, die hoë werkloosheidsyfer, ’n gebrek aan sportontwikkeling en tenders wat altyd aan dieselfde ondernemings toegeken word.

Die ANC het ook Vrydag die betogings in ’n verklaring sterk veroordeel en sê dit het tot drie mense se dood en 43 beserings gelei.

Volgens Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, het die betogers eers eise oor dienslewering gestel en daarna geëis dat Shakes Matyila, hul raadslid, verwyder moet word.

Mense het op sosiale media gesê dié alternatiewe pad is baie gevaarlik, veral vir voertuie soos busse. Hulle het ook betogers wat die N2 gesluit het sterk veroordeel.

Die Eagle Liner-busdiens kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

N2 heropen

In 'n verklaring van die Bitou-munisipaliteit Saterdaoggend sê die munisipaliteit die N2 is heropen na deeglike heroorweging van al die veiligheidsaspekte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.