Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Alterskye kuier gereeld vir Rohde in tronk

Die veroordeelde moordenaar Jason Rohde se minnares, Jolene Alterskye, sal waarskynlik Donderdag deel van sy verwelkomingsparty wees wanneer hy uit die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl in die Wes-Kaap, waar hy in aanhouding is, op borgtog vrygelaat word.

Rohde se borgtogaansoek in die appèlhof in Bloemfontein is Donderdag toegestaan.

Jason Rohde en sy vrou, Susan Rohde, in gelukkiger dae.

Netwerk24 kan vandag eksklusief berig dat Alterskye die afgelope tien maande vir Rohde gereeld in die gevangenis besoek het.

Rohde het in sy getuienis tydens sy hofsaak erken Alterskye was sy minnares, maar dat hy die verhouding beëindig het.

Haar eerste besoek aan hom was op 24 Maart vanjaar, sowat ’n maand nadat hy sy tronkstraf van 20 jaar begin uitdien het.

Dit was ’n geen-kontak-besoek. Sy het hom daarna vir die volgende nege maande nog 12 keer besoek.

Sy het hom die laaste keer op Sondag 15 Desember 2019 besoek. Dit was ’n kontakbesoek.

Alterskye se eerste sewe besoeke aan Rohde, insluitende haar eerste besoek, was almal geen-kontak-besoeke.

Bronne sê hy het in Augustus vanjaar, ses maande nadat hy sy tronkstraf begin uitdien het, ’n A-groep-gevangene geword.

Dit beteken volgens bronne dat hy beter en meer voorregte as gevangenes in die B- en C-groep het. Een daarvan is dat hy drie uurlange besoeke per maand kon kry.

Hul eerste kontakbesoek was op Sondag 1 September. Daarna het sy hom weer op Sondag 22 September besoek.

Jolene Alterskye. Foto: Facebook
Jason Rohde tydens sy verhoor. Foto: Jaco Marais

Alterskye het hom in Oktober ook twee keer – 6 en 10 Oktober – besoek. Haar voorlaaste besoek was op 17 November en daarna op 15 Desember.

Alterskye is Woensdag om kommentaar genader.

Netwerk24 het gevra of sy bewus is van die appèlhof se uitspraak dat hy op borgtog vrygelaat mag word, of hulle nog in ’n liefdesverhouding is, siende dat sy hom getrou elke maand besoek het, en of sy hom Donderdag by die tronk gaan ontmoet.

Alterskye se antwoord op die vrae was: “As jy enige antwoorde soek, bel my prokureur, William Booth.”

Booth het gesê hy kan geen kommentaar lewer nie omdat sy kliënt (Alterskye) ’n hangende hofsaak teen haar het. “Die saak is daarom sub judice,” het Booth gesê.

Alterskye het in die dae nadat Rohde gevonnis is, op die polisie se Facebook-blad teen die verhoorregter en die ondersoekbeamptes, sers. Marlon Appollis en sers. Stephen Adams van Stellenbosch, uitgevaar.

Sy het onder meer geskryf die staat en die regter is wat haar betref “in dieselfde span, en as die staat wederregtelik kan optree wanneer hy eiendomme onwettig deursoek en staatsgetuies omkoop, wat het hulle nie versin om hul Kersbonus te kry nie”.

“ ’n Korrupte land begin by korrupte polisie en ek hoop die waarheid sal onthul word sodat geregtigheid werklik kan seëvier.”

Alterskye het die inskrywing verwyder nadat mense kommentaar daarop gelewer het.

Sy het ook beweer sy moes Appollis en Adams met whisky omkoop om haar eiendom – ’n selfoon en rekenaar waarop die polisie glo onwettig beslag gelê het – terug te kry.

“Om omgekoop te word is die enigste taal wat die twee ken,” het sy geskryf.

Hoewel sy die inskrywing verwyder het nadat mense kommentaar daarop gelewer het en ook die nasionale vervolgingsgesag en die regter om verskoning gevra het, het regter Gayaat Salie-Hlophe, Appollis en Adams klagte van crimen injuria teen haar aanhangig gemaak.

Sy het op Maandag 18 November in die landdroshof in Kaapstad op die aanklagte verskyn. Die saak is tot 27 Januarie uitgestel.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Jolene Alterskye  |  Wes-Kaap  |  Paarl  |  Minnares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.