
Lily Smit is al ’n maand in ’n koma nadat ’n rower haar aangeval het. Foto: Verskaf
Lily Smit (66) van Potchefstroom was ’n vrou “wat nie vir vyf minute kon stilsit nie”. Maar nou is sy al ’n maand in ’n koma nadat sy breinskade opgedoen het toe ’n rower haar aangeval en haar man vermoor het.
“My ma was heeltyd besig,” sê haar dogter, Lindie van Dyk. “As sy nie gehekel het nie, het sy naaldwerk gedoen of resepte uitgetoets.”
Volgens Van Dyk het haar ma breinskade opgedoen nadat die rower haar in die aanval op 1 Desember met ’n ysterpyp teen die kop geslaan het.
Sy is sedertdien in ’n koma in die Milpark-hospitaal in Johannesburg. Lily se man, Boeta (69), is in die aanval ook teen die kop geslaan en het op die toneel gesterf.
Die egpaar se dubbelkajuitbakkie is ook in die rooftog in die vroeë oggendure in Louwstraat, Potchefstroom, gesteel.

Boeta Smit is dood in die aanval op 1 Desember.Foto: Verskaf
Boeta het gaan ondersoek instel toe hy geluide buite gehoor het, waarna die rower hom oorval, die huis ingesleep en toe ook vir Lily aangeval het.
Die polisie het Pfunzo Netshiongolwe (28) enkele ure later in hegtenis geneem nadat die nuus oor die aanval vinnig op plaaslike veiligheidsgroepe versprei het. Buurtwaglede en sekerheidsmaatskappye het die gesteelde bakkie agternagesit nadat dit aan die buitewyke van die stad opgemerk is.
Die bakkie was in twee ongelukke betrokke. In die eerste ongeluk het dit gerol, maar die bakkie het weer op sy bande te lande gekom en die bestuurder het verder gery. Die bakkie was kort daarna in ’n botsing betrokke, maar hierdie keer was die buurtwaglede en lede van die sekerheidsmaatskappy kort op sy hakke. Die lede het Netshiongolwe, wat die bakkie bestuur het, ná die tweede ongeluk vasgetrek, waarna die polisie hom in hegtenis geneem het.
Van Dyk sê haar ma se dokters sal tot die eerskomende naweek kans gee om te sien of daar ’n verbetering in haar ma se toestand is, voordat hulle ’n voedingsbuis in haar maag sal plaas.
“Ons soek nou na ’n plek in Potchefstroom waar sy versorg kan word. My ma se dokters meen die volgende ses maande sal bepalend wees om te sien of sy uit die koma gaan wakker word.”
Netshiongolwe verskyn weer op 9 Januarie in die landdroshof in Potchefstroom wanneer hy moontlik om borgtog aansoek sal doen. Hy word aangekla van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en roekelose of nalatige bestuur.
Toe hy die vorige keer verskyn het, het van Dyk gesê sy het gewonder hoe “enige Godgeskape mens so iets kan doen”.