Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ambassadeur-poste nie meer so maklik te kry

Zindzi Mandela se omstrede termyn as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke is ná twee verlengings uiteindelik verby.

Mandela het in Junie verlede jaar, toe haar termyn moes verstryk, opspraak verwek toe sy in ’n uitbarsting op Twitter onder meer getwiet het wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe” en apartheidsapologete” wat net soos “ongenooide gaste . . . weier om te loop”. Sy het ná hewige kritiek spoorloos verdwyn en selfs haar werkgewer kon haar ’n week lank nie opspoor nie. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het haar daaroor berispe.

Dit blyk die regering begin sy belofte van skoon administrasie gestand doen met die nuwe besem by die staatsveiligheidsagentskap, adv. Mahlodi Muofhe, wat twee omstrede moontlike ambassadeurs hul poste gekos het. Siyabonga Cwele en Dipuo Letsatsi-Duba, albei voormalige intelligensieministers, het nie sekerheidsklaring gekry nie.

Ook het Clayson Monyela, waarnemende direkteur-generaal in die departement van interna­sionale betrekkinge en samewerking (Dirco), bevestig dat Shirish Soni nie meer die ambassadeur in Italië is nie nadat hy aan verskeie onreëlmatighede skuldig bevind is.

The Sunday Independent het op 12 Januarie vanjaar berig dat Soni teruggeroep en met drie maande se salaris beboet is. Hy is skuldig bevind aan finansiële onreëlmatighede en het gejok oor sy akademiese kwalifikasies.

Die koerant het ’n brief aangehaal waarin Monyela vir Soni inlig dat hy in ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is.

Monyela het Vrydag gesê die kwessie is afgehandel. Soni werk nie meer vir Dirco nie en ’n nuwe ambassadeur na Italië moet aangewys word.

Wat betref Cwele en Letsatsi-Duba het The Sunday Times vroeër vandeesmaand berig hulle het hul sekerheidsklaring vir ambassadeurskap gedruip.

Cwele het diplomatieke opleiding ontvang om ambassadeur in Beijing, China, te word; en Letsatsi-Duba sou in Ankara, Turkye, ontplooi word. Hulle het in Desember hul opleiding voltooi.

Muofhe, wat in Augustus 2019 deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is, het albei se aanstellings afgekeur. Muofhe, ’n oudraadgewer van oudmin. Ngoako Rama­tlhodi en wat ook vroeër ’n appeltjie met die berugte Guptas geskil het, het kort ná sy aanstelling belowe dat hy sterk teen wanbestuur gaan optree.

Cwele en Letsatsi-Duba is verlede jaar deur Ramaphosa benoem nadat hulle nie weer in die kabinet aangestel is nie. Albei het glo by Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, teen Muofhe se besluit geappelleer.

Cwele is in omstredenheid gehul toe sy voormalige vrou, Sheryl, tronkstraf van 12 jaar opgelê is nadat ’n dwelmmuil van haar in 2008 met 10 kg kokaïen in haar besit op die São Paulo-lughawe in Brasilië betrap is.

Letsatsi-Duba het glo gelieg oor ’n sakeverhouding met oudpres. Jacob Zuma in 2005.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Dipuo Letsatsi-Duba  |  Siyabonga Cwele  |  Clayson Monyela  |  Poste  |  Dirco
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.