Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Amok oor speler met bottelnekke

’n Humeurige rugbyspeler van Oudtshoorn wat verlede naweek met twee stukkende bottelnekke op die veld gedraf het, se speeldae is vir eers verby.

Chad Pass storm kaalbolyf op die veld. Foto: Oudtshoorn Courantchad pa

Die Suidwestelike Distrikte-rugbyunie (SWD) het Chad Pass (23) vir vyf jaar geskors, waarvan twee jaar opgeskort is, en sy klub, Spring Roses, het sy lidmaatskap vir tien jaar opgeskort.

Pass het verlede Saterdag in die nr. 9-trui vir Spring Roses in ’n voorseisoen-wedstryd uitgedraf. Hul teenstanders was die plaaslike All Blacks-rugbyklub, vir wie Pass voorheen gespeel het. ’n Bron goed bekend met Pass het vir Rapport gesê hy is nie op ’n goeie voet weg nie. “Daar is bad blood tussen hom en die All Blacks. Hy het verlede jaar by Spring Roses aangesluit. Meer gaan ek nie sê nie.”

Nog ’n bron, wat by verlede Saterdag se wedstryd was, sê Pass se humeur was net so warm soos die Wes-Kaapse somersdag. “Die manne het nie die volle 40 minute gespeel nie en het kort-kort gestop om water te drink.” Hy sê daar was onheil op die horison toe Pass rustyd vervang is met ’n ander speler. “Hy het een van die All Blacks-spelers, die flank Mario Rabie, gevloek omdat hy hom glo in ’n losgemaal met die knie geskop het.”

‘Daar is bad blood tussen hom en die All Blacks.’

Die wedstryd het voortgegaan en die All Blacks het kort ná rustyd agter die Spring Roses se doellyn gaan kuier. Terwyl hulle vir die Roses se afskop gewag het, was die vet skielik in die vuur. ’n Toornige Pass het met ’n kaal bolyf op die veld gestorm, ’n stukkende bottelnek in elke hand. “Hy het na Rabie gesteek, maar gelukkig gemis. Dit was chaos,” beweer die bron.

Lede van Spring Roses se uitvoerende bestuur het Pass met ’n gesukkel bedwing. Hy het gedreig dat sy vriende die All Blacks se slot Everton Manewil “met messe sal steek”. Later, toe Manewil saam met sy vrou en kinders die terrein met hul kar wou verlaat, het Pass en van sy vriende hom glo weer probeer aanval.

Die voorsitter van die All Blacks, Damon Gysman, het aan die Oudtshoorn Courant gesê hulle het verneder gevoel omdat hulle voor hul vroue en kinders met ’n mes gedreig is. Aan Rapport wou Gysman geen kommentaar lewer nie.

“U kan maar met die SWD-unie verder gesels . . . saak afgehandel,” het Gysman in ’n WhatsApp-boodskap gesê.

Pass sê hy wil appelleer teen sy skorsing. Hy beweer een van die All Blacks-spelers het hom in ’n losskrum geklap.

Pass sê hy het ’n drie gedruk en toe hy die veld kort daarna verlaat, het van die All Blacks hom “geskel en beledig”.

Die Spring Roses én Pass is skuldig bevind aan onsportiewe gedrag en wangedrag. Hulle het skuld beken.

Die klub is met R5 000 beboet, waarvan R3 000 vir drie jaar opgeskort is. Die Spring Roses moet ook ’n veiligheidsplan vir die toekoms aan die SWD voorsien.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek twee klagte van aanranding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.