Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Amor se aandag by kinders wat eksamen skryf

Amor Vittone spits haar toe op haar kinders wat eksamen skryf en gaan daarom nie praat oor haar vervreemde man, Joost van der Westhuizen, se boedel nie, sê haar ma, Delyse Vittone.

Amor het Maandag uitgevind van die hofbeslissing dat die oud-Springbokkaptein Joost se 2015-testament, waarin sy as’t ware onterf is, geldig is. Hul twee kinders is die enigste begunstigdes.

Amor Vittone Foto: Verskaf

Amor wou hê die 2009-testament, waarin sy alles erf, moes as die laaste, geldige testament verklaar word.

“Haar kinders is nou haar grootste prioriteit en daarom waardeer sy dit dat hul privaatheid in hierdie stadium gerespekteer word,” het Delyse gesê.

Amor se regspan het Maandag buite die hooggeregshof in Pretoria gesê hulle gaan teen die beslissing appelleer.

Regter Hans Fabricius het in die hof gesê daar is nooit daadwerklike redes gegee wat die geldigheid van die 2015-testament in twyfel trek nie. In dié testament meld Joost spesifiek dat Amor geen voordeel uit die J-9-trust mag kry nie. Sy erf ’n televisiestel.

Joost se voormalige prokureur, Ferdinand Hartzenberg, het die testament in 2015 namens Joost onderteken omdat Joost glo nie in staat was om dit te doen nie. Hy was in ’n gevorderde stadium van motorneuronsiekte.

Amor het in haar beantwoordende beëdigde verklaring aangevoer Joost was wel in staat om “ten minste ’n lyn te trek” indien hy nie ’n handtekening kon maak nie. Sy het ook bevraagteken of Joost by sy volle verstand was ondanks die brief van dr. Prakash Kathan, spesialis-neuroloog, wat bevind het dat Joost in staat was om finansiële besluite te neem.

Joost se broers, Pieter en Gustav, en Gavin Varejes is nou weer as die trustees van Joost se J-9-trust aangestel.

Hulle is vroeër in die hooggeregshof in Bloemfontein onthef hangende die uitslag van die boedelsaak.

Pieter het by navraag gesê hy het simpatie met Amor, maar hy is ook bly dat hy nou sy belofte aan Joost kan nakom.

“Ek het hom belowe dat sy kinders se geld so lank as moontlik gaan hou,” het Pieter gesê.

“Daar is verskeie redes hoekom Amor by die boedel uitgelaat is, maar ek wil nie daaroor uitwei nie,” het hy gesê.

“Ek is bly die saak is verby sodat ons kan aangaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.