Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
André Schwartz oorleef Covid-19

Bid dat die “gesondmaak-engele” kom kuier, het André Schwartz Saterdag uit sy hospitaalbed gevra.

André Schwartz by sy plaas naby Krugersdorp. Foto: Elizabeth Sejake

Hy was opgewek, al was hy vir die tweede keer dié maand in die hospitaal weens Covid-19-komplikasies. Die sanger het verlede maand siek geword tydens ’n besoek aan Kaapstad. Hy was sedertdien nege dae in die hoësorgeenheid en drie weke in die hospitaal.

Teen Donderdag was hy gesond genoeg om terug te vlieg na Gauteng, maar Vrydag is hy terug hospitaal toe omdat sy longe “nie wil saamwerk nie”.

Schwartz, wat aan motorneuronsiekte ly, het Vrydag by sy huis in Krugersdorp gesê sy Covid-19-ervaring is een “van hitte en opbrand, ongelooflike angstigheid, hopeloosheid, hartseer en erge pyn”.

Hy was steeds uitasem en het ’n suurstoftenk byderhand gehad.

Die verpleegsters om my bed het gedink ek gaan dit nie oorleef nie.

Die sanger is op 15 Desember in Netcare se Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad opgeneem met Covid-19. Sy 87-jarige ma, Ina, moes Kersfees in isolasie deurbring nadat sy ook die virus opgedoen het. Sy het nooit simptome van die siekte getoon nie.

Schwartz is Kaapstad toe om ’n musiekopname te doen saam met vriende se 16-jarige seun by hul huis in Clifton.

“Ons het heelwat tyd in die ateljee deurgebring. Die aand het ons kreef gebraai en dit was heel gesellig. Ons was ses mense.”

Die volgende oggend het hy sleg gevoel en binne ’n uur was dit so erg hy het besef hy moet by ’n hospitaal uitkom.

“Ek het ’n verskriklike koors gehad en ek kon nie asem haal nie.”

Om in ’n rolstoel by die Covid-19-saal ingestoot te word en te sien hoe ontsettend siek die mense lyk was ’n groot skok.

“ ’n Totale angs het my aangegryp. Ek het besef as jy hier instap weet jy nie of jy weer hier gaan uitstap nie.”

Dring daarop aan dat mense maskers dra en afstand hou, want dit kan lewens red.

Die volgende paar weke was dit ’n stryd met die dood.

“Ek moes baklei teen iets wat my die hele tyd probeer uitvat het. Dit was ’n ongelooflike fisieke en geestelike stryd. Ek moes ten volle op versorgers en medici vertrou wat my behandel het.

“Jy moet geloof hê om dit te oorleef. Dis ’n horrible ding.”

Hy het morfien gekry vir erge buikpyn. In ’n stadium het hy wakker geword met verpleegsters wat om sy bed staan.

“Hulle het vir my gevra of hulle vir my kan bid. Hulle het gedink ek gaan dit nie oorleef nie.”

Die pad na herstel is ’n opdraandestryd, sê hy.

Sy fisioterapie het aanvanklik ses treë behels. Hy moes verby ’n tafel stap met ’n kers daarop wat aangesteek is as iemand die vorige nag dood is.

“Ek wou elke keer huil van dankbaarheid as die kers nie aangesteek was nie, want almal het dan die nag oorleef.”

'n Mens besef eers die ware omvang van Covid-19 as jy dodelik siek daar lê, sê Schwartz.

Hy is oortuig daarvan ’n ervare verpleegster het sy lewe gered.

“Ek het op 23 Desember wakker geword en toe is daar ’n suster langs my bed. Sy het doodeenvoudig gesê hierdie man moet onmiddellik ICU toe. As sy nie daardie besluit op daardie oomblik geneem het nie, was ek dood.”

Hy sê die emosionele impak van die virus op almal in die hospitaal is amper so erg soos die siekte.

“Die verpleegsters werk teen ’n verbysterende tempo. Ek moes my medisyne saans teen elfuur kry, maar dan kry ek dit eers teen eenuur omdat hulle dan eers hul saalrondes kon afhandel.”

Hy het vir vriende gevra om vir hom Panado’s te bring sodat hy nie die verpleegsters daarvoor hoef te pla nie, sê hy.

“Die verpleegsters is ongetwyfeld engele. Omtrent al die verpleegsters het al die siekte gehad en dit was ongelooflik om deur mense versorg te word wat verstaan waardeur jy gaan.”

Daar was twee oggende dat verpleegsters staan en huil het nadat van hul kollegas die vorige aand dood is aan die siekte, sê hy. “Dit was verskriklik. Ek het so gewens ek kon hulle net ’n drukkie gee.”

Baie mense wat siek word van Covid-19 kan nie ruik of proe nie, maar Schwartz sê dit het nie met hom gebeur nie. Hy het wel onophoudelik gehik, erge buikpyn gehad en gesukkel om asem te haal.

“Ek het by tye ongelooflik angsbevange geraak. Ek het in ’n stadium kliphard vir myself ‘stop dit’ geskreeu. Ek het toe die klank in my kop gebêre en daaraan gedink as ek bang word. Ek wou soms net begin huil oor alles en ek moes streng wees met myself. Jy kan nie vordering maak as jy jouself jammer kry nie.”

Dit was vir hom verskriklik toe sy ma ook positief toets vir die virus, sê hy.

“Sy moes toe selfisoleer en ek kon niks vir haar doen nie. Gelukkig was sy nie simptomaties nie. Ek was net dankbaar dis ek wat hier lê en nie sy nie.”

Schwartz sê hy voel hy het ’n plig om mense te waarsku teen die virus.

“Ons het almal skuld daarin dat ons nie by die reëls gehou het nie en dat die virus versprei het. Ek het verlede jaar konserte gehou waar mense maskerloos was. Ek vra vir kunstenaars om groter te wees as die ding wanneer hulle later vanjaar weer konserte hou. Dring daarop aan dat mense ’n masker dra en sosiale afstand hou, want dit kan lewens red.”

Moenie die fout maak om die virus nie ernstig op te neem nie, sê hy. “Dit is ’n dodelike, uitmergelende, genadelose, kwaadwillige en onvergeeflike virus.”

Saterdag was hy vol hoop dat die ergste agter hom is. “Ek is oortuig daarvan dat ek binnekort hier uit gaan wees.”

Meer oor:  André Schwartz  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.