Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Anika het aan vereistes voldoen, sê vliegskool

Die vliegskool Professional Flight Centre hou vol dat Anika de Beer (16), wat Dinsdag in ’n vliegtuigongeluk dood is, aan al die vereistes voldoen het om die solovlug te onderneem.

Anika se pa, Andries de Beer, het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy glo nie die vliegskool was nalatig nie, maar hy soek antwoorde op ’n paar vrae.

“Sy het al die nodige opleiding gekry om ’n solovlug te onderneem. Sy het ook die nodige goedkeuring gehad vir die vlug,” sê Karel Ehmke namens die vliegskool.

Hierdie foto van Anika de Beer (16) is Vrydag geneem toe sy haar eerste solovlug onderneem het. Foto: Verskaf

Anika het Dinsdag met ’n Piper Cherokee 28A-180-vliegtuig van die Wonderboom-lughawe in Pretoria af opgestyg. Die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het in ’n oop stuk veld naby die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal neergestort. Anika is op die toneel dood verklaar.

“Ek kan die versekering gee dat ons nie vir Anika sou laat vlieg het indien sy nie die nodige ervaring gehad het nie. Haar vliegure het ook aan die vereistes voldoen,” sê hy.

Dit was haar tweede solovlug.

Anika de Beer (16) saam met haar ouers, Rika en Andries, by die Wonderboom-lughawe. Foto: Verskaf

Ehmke sê die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek die omstandighede rakende die ongeluk en dat die bevindinge en alle toepaslike inligting in ’n BLO-verslag bekend gemaak sal word.

De Beer sê hulle wag ook op die verslag.

“Die enigste ding wat my ’n bietjie bekommer, is of daar sterk winde was waarin sy nie veronderstel was om te vlieg nie,” sê hy.

Wat hom ook pla, is dat die vliegskool die solovlieëniers moontlik toegelaat het om met baie verkeer om hulle te vlieg.

“Sy het ingekom om te land. Die lughawe was blykbaar ’n bietjie besig en toe het hulle gesê sy moet net weer sirkel,” sê haar ma, Rika.

De Beer sê daar is goed wat hom pla.

“Indien die vliegskool binne die raamwerk opgetree het, kan ek nie kwaad wees nie. As dit nie so is nie, gaan ek kwaad wees.”

Kabelo Ledwaba, BLO-woordvoerder, sê die owerheid ondersoek die ongeluk.

“Ons kan volgens internasionale regulasies ongelukkig niks verder oor die ongeluk bekend maak nie,” sê hy.

Hy sê hy verstaan dat daar baie vrae en kommer oor die omstandighede van die ongeluk vanuit die publiek se oogpunt kan wees.

“Daardie vrae sal in die voorlopige verslag oor die ongeluk beantwoord word,” sê hy.

Dié voorlopige verslag sal binne 30 dae ná die ongeluk bekend gemaak word.

Anika de Beer
Anika de Beer (16) Foto: Hoërskool Montana/Facebook

Linden Burns, lugvaartkenner, sê geen kommer moet bestaan oor die standaarde van vliegskole in Suid-Afrika nie.

“Ons vliegskole is van die bestes ter wêreld,” sê hy.

Burns sê daar is streng maatreëls by vliegskole.

“Die maatreëls is meer as wat internasionale lugvaartowerhede vereis. Die standaarde hier is uiters hoog en die owerhede kontroleer dit voortdurend,” sê hy.

Volgens hom sal dit in dié stadium onregverdig wees om te sê die fout lê by die vlieënier of by die vliegskool se opleiding.

“Dit is belangrik om te wag vir die BLO se verslae. Daarin sal ons kan sien wat skeefgeloop het. Daar is selfs ’n kans dat die vlieënier alles reg gedoen het, maar dat die vliegtuig self ’n probleem gehad het. Tyd sal leer,” sê Burns.

Hy sê dit is ook nie ongewoon dat jong vlieëniers solovlugte onderneem nie.

“Dit is deel van die opleiding en moet gedoen word voordat studente hul vlieglisensie kan kry.”

Volgens Burns is daar verskeie kriteria waaraan ’n student vir alleenvlugte moet voldoen.

“Eerstens moet ’n student ouer as 15 jaar wees om te kan vlieg.”

Hy sê dit is ook nie ’n situasie waar jy “ ’n vlieënier in die vliegtuig sit en sê vlieg” nie.

“Die studente moet eers ’n aantal vliegure op hul kerfstok hê voordat hulle alleenvlugte mag aanpak. Die instrukteur moet dan ook besluit of die student gereed is om alleen te vlieg en die vliegskool moet goedkeuring vir ’n alleenvlug verleen,” sê Burns.

Meer oor:  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.