Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘ANN7 mag nie nóú verdwyn’
Koos Bekker, voorsitter van Naspers. Foto: Lerato Maduna

Faksies binne die ANC wil nie hê dat MultiChoice die nuuskanaal ANN7 van die lug haal so kort voor die ANC se verkiesingskonferensie nie.

Hierteenoor gebruik die DA “Trump-tipe fopnuus” om die uitsaaier te probeer dwing om die Gupta-Zuma-spreekbuis stil te maak.

So het Koos Bekker, voorsitter van Naspers, in ’n radio-onderhoud op die geselsradiostasie 702 se The Money Show gesê.

“Ons het met verskillende groeperings binne die ANC hieroor gepraat en niemand van hulle wil hê dat ANN7 van die lug af gehaal word nie,” het Bekker Vrydagaand in die radio-onderhoud gesê.

“Interessant genoeg is dit juis die DA wat wil hê die kanaal moet van die lug verdwyn. Die DA het nou Trump-tipe fopnuus geskep dat die SAUK en MultiChoice ’n klandestiene vergadering sou hê waarin hulle met mekaar gekonkel het.

“Ons het agterna die feite nagegaan en dit is van alle waarheid ontbloot. Die vergadering is deur die SAUK aangevra en daar was SAUK-raadslede en senior bestuurslede van sowel die SAUK as MultiChoice by die vergadering.

“Die vergadering is opgeneem en notules is geneem,” sê Bekker.

Volgens Bekker sou dit ’n fout wees om aan die DA en lede van die publiek se eise toe te gee.

“Die ANC se leiersverkiesing is oor twee weke en ANN7 speel ’n baie belangrike rol in die debat. Hulle verteenwoordig die sienings van ’n sekere groep mense binne die party. As ons die kanaal van die lug af haal, sal dit nie die demokratiese proses dien nie.”

‘Dit sal nie die demo-kratiese proses dien nie.’

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, het die afgelope week gesê notules van ’n vergadering tussen MultiChoice en die SAUK op 6 Junie 2013 wys dat Imtiaz Patel, destydse uitvoerende hoof van MultiChoice, ingestem het om die SAUK R100 miljoen vir ’n 24-uur-nuuskanaal te betaal op voorwaarde dat die SAUK sy invloed gebruik om te verseker dat die regering die gebruik van ongekodeerde seinverwerkers vir digitale aardgebonde (terrestriële) televisie goedkeur.

Bekker sê dit is bog. Hy verduidelik dat die vergadering deur die SAUK belê is, wat met MultiChoice wou onderhandel om hul kanale op DStv uit te saai.

“Daar is oor die prys onderhandel en MultiChoice het digitale enkodering op die onderhandelingstafel geplaas omdat dit vir hulle ’n kritieke aspek was.

“Dit was vir MultiChoice belangrik dat digitale aardgebonde televisie oop en goedkoop moet wees.

“Die aangeleentheid was deel van die pakket.

“Daar was absoluut niks verkeerd of krimineel daaraan om dit deel van die onderhandelings te maak nie,” sê Bekker.

’n Lid van die nuwe SAUK-raad het aan Rapport gesê die SAUK het homself in die voet geskiet deur destyds saam met Multi­Choice en die minister van kommunikasie in ’n regsgeding betrokke te raak oor die staat se beleid oor enkodering.

Die SAUK het minister Faith Muthambi en DStv ondersteun in die uitgerekte hofgeding, wat uiteindelik in die konstitusionele hof beland het. e.tv en nog 15 respondente in die uitsaaibedryf het dit teengestaan.

Die hof het in Junie in Mu­thambi se guns beslis dat sy wel by magte was om die migrasiebeleid vir digitale uitsendings te wysig waarvolgens dekodeerders vir digitale aardgebonde televisie nie enkodering benodig nie.

Met die bekendmaking van die regering se aanvanklike beleidstandpunt hieroor in 2008 het die regering wel enkripsie voorgestaan.

’n Raadslid wat op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat het, sê die SAUK word nou net soos e.tv en ander nuwe rolspelers benadeel wat in die betaal-TV-mark met MultiChoice wil meeding.

“Die grootste kwessie is dat inhoudsverskaffers nie hul materiaal aan uitsaaiers wil verkoop wie se uitsaaiseine nie geënkodeer is nie. Dit benadeel die SAUK en e.tv wat weens regeringsbeleid gedwing word om inhoud uit te saai wat nie geënkodeer word nie.”

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, sê die aangeleentheid is ’n beleidskwessie en dat die raad beleidmakers oor sy posisie sal inlig.

“Die raad is nie by magte om die beleidskwessie in die media te bespreek nie,” sê hy.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die nuwe minister van kommunikasie, sê dit is onwaarskynlik dat sy aan die regering se beleid oor digitale enkodering gaan torring.

“My grootste bekommernis is dat die stryd oor enkodering die hele proses met die omskakeling van analoog na digitaal onnodig uitrek.

Daar is ook ’n groot kans dat dit weer in die howe sal beland.
Mmamoloko Kubayi-Ngubane

“Indien ek nou regeringsbeleid oor digitale enkodering wil verander, sal ek dit moet regverdig en met die publiek daaroor konsulteer.

“Daar is ook ’n groot kans dat dit weer in die howe sal beland. Daar is net nie tyd hiervoor om die spertyd vir digitale migrasie te haal nie,” sê sy.

Die oorgang van analoog na digitale aardgebonde televisie (vir mense wat nie satelliettelevisie het nie) gaan daaroor dat dit meer bandwydte vir die internet beskikbaar sal stel. Dis ’n wêreldwye proses en Suid-Afrika moet teen 2018 oorskakel na digitaal toe.

Sy sê die regering se rol is ook nie om te betaal vir die bevordering van die private sektor se kommersiële belange nie. “As rolspelers enkripsie benodig, moet hulle self daarvoor betaal.”

Kubayi-Ngubane sê die DA se bewerings is ou nuus.

“Dit is dokumente wat die SAUK aan die parlement voorgelê het. ’n Spesiale ondersoekeenheid is aangestel om dit te ondersoek. As nuwe bewyse na vore kom, sal ek beslis daarna kyk.”

News24 het berig dat MultiChoice ook ’n betaling van R25 miljoen aan ANN7 gemaak het, asook sy jaarlikse betaling aan ANN7 verhoog het tot R141 miljoen per jaar, nadat Mu­thambi pres. Jacob Zuma oorreed het om bepaalde bykomende magte aan haar oor te dra.

Naspers het voorheen in ’n verklaring gesê die betaling van die R141 miljoen is standaardpraktyk. Die betaling van R25 miljoen is pro rata gedoen.

Meer oor:  Koos Bekker  |  Naspers  |  Ann7
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.