Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘ANN7 ná Junie 2018 nie meer op DStv’
Manyi was nog nie by Multi-Choice.

ANN7, die televisienuuskanaal wat deur die Guptas gestig is, sal nie meer op DStv uitgesaai word nadat die huidige kontrak in Junie 2018 verstryk het nie, sê betroubare bronne in die uitsaaiwese.

Die besluit is glo geneem ná verskeie vergaderings tussen DStv se eienaar, ­MultiChoice, en adviseurs.

Nadat dit aan die lig gekom het dat ANN7 minstens R50 miljoen per jaar by die uitsaaier kry, was daar ’n openbare veldtog om DStv-intekenare te oortuig om hul intekening te staak.

Volgens die bron is die besluit om ANN7 te pos grootliks gemotiveer deur kommer dat die MultiChoice-handelsmerk skade kan ly weens sy verbintenis met die omstrede nuuskanaal.

Ander redes sluit in etiese oorwegings weens die indruk dat die kanaal bevooroordeeld is en vendettas voer teen sekere individue, kommersiële oorwegings en kommer oor produksiegehalte.

“Hulle sou dit vroeër wou doen, maar hulle wil nie ’n uitgerekte hofsaak hê nie,” beweer die bron.

Volgens een van die bronne is MultiChoice besorg dat ANN7 gebruik word as ’n platform vir persoonlike aanvalle op kritici van pres. Jacob Zuma soos die gewese ministers Pravin Gordhan en Derek Hanekom.

Hanekom het twee maande gelede ’n saak by die Uitsaaiklagtekommissie teen ANN7 gewen nadat ’n paneellid op ’n nuusprogram beweer het hy was ’n apartheidsagent.

Volgens die bron is die kanaal nie ’n kommersiële sukses nie. Dit trek net sowat 10% van DStv se totale nuuskykers, terwyl die SAUK se nuuskanaal omtrent 20% trek en eNCA 50%.

MultiChoice was glo aanvanklik bly dat ANN7 ’n alternatiewe blik op die nuus gegee het omdat eNCA deur sommige mense beskou is as pro-DA, terwyl die SAUK weer sekere dele van die ANC verteenwoordig het, maar die kanaal is nou net ’n las.

Die bron sê MultiChoice is ingelig van die verandering van eienaarskap van die Guptas se mediaryk, Infinity Media, in Augustus. Die nuwe eienaar, Mzwanele Manyi, het hom egter nog nie aan MultiChoice voorgestel of met hulle vergader nie.

Jackie Rakitla, korporatiewe bestuurder van MultiChoice, wou nie kommentaar lewer oor die bewering dat ANN7 uitgeskop gaan word nie. “Ons kan nie kommentaar lewer oor die voorwaardes van die kontrak of die duur daarvan nie omdat daar vertroulikheidsklousules is.

“Die eienaars van ANN7 het ons nie genader oor die hernuwing van die kontrak nie en ons onderhandel nie tans met hulle daaroor nie,” het sy gesê. “Soos ons reeds gesê het, DStv is ’n platform vir verskeie plaaslike en internasionale nuuskanale wat ’n wye spektrum van menings omvat. Ons het nie redaksionele beheer oor enige daarvan nie. Ons kan ook nie ’n kontrak voortydig kanselleer nie omdat dit kontrakbreuk sal wees.”

Manyi is min gepla oor die gerugte.

“Ek glo nie MultiChoice sal vertroulike inligting oor sy kontrakte met derde partye bespreek nie, want dit sal oneties wees. Julle is op ’n desperate visvang­ekspedisie,” het hy gesê toe City Press, susterskoerant van Rapport, hom daaroor gepols het.

Meer oor:  Mzwanele Manyi  |  Ann7  |  Multichoice  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.