Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Appelboer dra kroon as VL se Jongboer van die Jaar
Doug Osler (39), ’n appelboer van Fouriesburg, is as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys. Megan, sy vrou, is ’n kindersielkundige en kom oorspronklik van Zimbabwe. Foto: Mlungisi Louw

’n Appelboer van die Vrystaat is pas as Vrystaat Landbou (VL) se 25ste Jongboer van die Jaar aangewys.

Doug Osler (39) is die vierde generasie op hul familieplaas, Fourieshoek, in die Fouriesburg-omgewing waar hy reeds 17 jaar boer.

Hy het ’n PPE-graad (politiek, filosofie en ekonomie) aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en is verantwoordelik vir hul maatskappy, Lone Tree Farms, se appelproduksie en pakhuis, van waar hulle na talle lande uitvoer.

“Mense dink ons voer al die goeie appels uit, maar slegs 25% word uitgevoer.”

Slegs 2% van die appels wat in Suid-Afrika verbou word, kom uit die Vrystaat. Die uitdaging om hier met appels te boer, is die korter seisoene wat beteken daar is ekstra uitgawes soos nette wat ingespan moet word om die boorde teen ryp te beskerm.

Die Vrystaat het egter die voordeel dat die oesseisoen vroeër begin.

“Die plan vir die pad vorentoe is om die seisoene te probeer verleng.”

Met kultivars soos Royal Gala, Top Red, Golden Delicious, Pink Lady en Sundowner eindig hul oesjaar einde Mei.

Francois Wilken, president van VL, Megan en Doug Osler met sy trofee, en Rudo Opperman, ondervoorsitter van die VL-Jongboer-komitee. Foto: Mlungisi Louw

Megan, sy vrou, is ’n kindersielkundige en werk in KwaZulu-Natal waar hul dogters, Anna (8) en Leah (6), skoolgaan. Megan kom oorspronklik van ’n plaas in Zimbabwe.

Sy broer, Mike, hanteer die graanboerdery en sy suster, Gill, is ’n geoktrooieerde rekenmeester en die plaas se finansiële bestuurder.

Osler is lid van die Fouriesburg-landbouvereniging, voorsitter van Highveld-vrugteprodusente en dien as direkteur in Hortgro Pome se produsenteraad.

Hy glo daarin om ’n werkomgewing te skep waarin almal bereid is om te help, te leer en te groei. Wedersydse respek is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir

hom belangrik om sy werknemers met werkverwante én persoonlike probleme by te staan.

Hy sê die onlangse toename van 16% in die minimum loon het ’n massiewe invloed op hul boerdery, maar hulle werk daaraan om dit te absorbeer sodat hulle nie werkers verloor nie.

Osler stap onder meer weg met ’n kontantprys van VL en geskenkbewyse van Kynoch en Brand New SA. Hy dring ook outomaties deur na Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en departementshoof van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, word finaliste beoordeel in onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.

Fourie meen vandag se jongboere beskik oor die nodige leierskaps- en innovasievaardighede en sê hy het hoop vir die toekoms van landbou “in die hande van hierdie knap jong mense”.

Meer oor:  Doug Osler  |  Jongboer Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.