Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Armoede, Covid steel nie Shaleen se ‘smile’ nie

Haar lewe het ’n teater in ’n ongemaklike stilte kom word, maar moet haar nie jammer kry nie, sê die veteraan-aktrise Shaleen Surtie-Richards.

Shaleen Surtie-Richards Foto: Pieter du Toit, Kuier

Die afgelope 12 maande gaan dit bars met die 65-jarige aktrise, want Covid-19 het haar nie net self beetgepak nie, maar het ook haar loopbaan en die kunstenaarsbedryf in ’n wurggreep.

Vanjaar was daar nog geen nuwe kontrakte nie.

“Ga’ niks aan nie, my darling, geen aanbiedinge nie, niks is vasgemaak nie. Mense sal seker dink ek is sieklik en oud.

“Ek dink baie hoe my lewe eens was . . .”

In 1988 het sy die hoofrol in die fliek Fiela se kind gespeel. Toe kom nog groot rolle in TV-sepies soos dié van Nenna in Egoli, plek van goud, asook in Villa Rosa en 7de Laan. Daar was rolle in teaterstukke, optredes by van die land se groot kultuurfeeste, groot pryse en staande toejuigings.

“As ek dink hoe hard ek gewerk het en om nou so stil te kom sit. Mens!”

Verlede jaar het sy ’n rolletjie in die sepie Arendsvlei gehad en het ook in die fliek Swirl: ’n Liefdesbrief vir hare gespeel.

Onlangs was sy op die voorblad van die Kuier-tydskrif, maar toe kamp die balju, met ’n brief van die bank, ook nog voor haar deur uit.

Spaargeld bestaan nie meer nie, sê sy.

Jy sien, net as jy begin moed verloor, dan spring die Here in.

Shaleen (65) behoort aan die buurtwag en hulle kom gereeld inloer. “Deon van Wyk kyk of ek orraait is en Erika Dreyer bring soms ’n lekker bord kos. Hulle is waarlik engele.

“Ek sê nooit nee nie.”

Die Teaterbystandsfonds (TBF) het haar veral Kersfees gedra.

“Hulle is baie goed vir my en help waar hulle kan. Jy sien, net as jy begin moed verloor, dan spring die Here in. Ek byt vas. Die moeilike tye sal nie my smile steel nie.”

In haar huis in Witpoortjie, Krugersdorp, woon sy saam met haar huiswerker en vriendin uit Zimbabwe, Toriro Chimsoro, die Pekinese hondjie Peaches en ’n “brakkie van ’n pel, met ’n Franse naam wat net die Here alleen kan spel”.

Sy kuier bitter min met mense en sit heeldag in die huis, nie in die tuin nie. Die “sigrets” kan sy net nie los nie.

“Bly in jou nes, dan bly jy ongekwes. Dít glo ek.”

Shaleen lag by haarself.

Besig? “Ek het oefening nodig. Ag, my kreatiwiteit is in die grond, maar my oë is op die Here en op my huishulp. Sy is my alles. Soms kan ek net bekostig om ’n ietsie vir ’n ‘salaris’ te gee.

“Hei! Die moet nou nie ’n doom and gloom-storie word nie, asseblief. Ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie.”

Sy verlang na Kameelmond, haar grootwordplek naby Upington in die Noord-Kaap. “Was bitterblou jare daar.”

Kan Rapport haar kom afneem? “Nee! Jy moet my ’n week voor die tyd vra,” antwoord sy weer met die alombekende kekkellaggie.

  • ¦
Meer oor:  Shaleen Surtie-Richards  |  Aktrise  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.