Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Armoede in Lesotho bedreig VS boere’

Groot kommer bestaan onder landbouleiers dat armoede in Lesotho, tesame met swak grensbeheer, al hoe meer tot plaasaanvalle en ander misdaad in die Vrystaat kan lei.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê hy is werklik bekommerd oor die probleme wat misdadigers uit Lesotho in die Vrystaat veroorsaak.

“Groot misdaadsindikate van Lesotho is in die Vrystaat bedrywig,” sê hy.

Wilken sê hy glo die moordenaars van die Van der Berg-egpaar van Boshof, Sakkie en Ina, wou na Lesotho vlug.

Jong mans kon altyd in Suid-Afrika in die myne kom werk, maar nou is daar nie meer werk nie.
Francois Wilken

’n Bakkie wat aan die egpaar behoort, is Sondag naby Hobhouse aan die Lesotho-grens gekry.

Hy sê dit is bekend dat Lesotho-burgers al by plaasmoorde so ver as die Wes-Kaap betrokke was.

Van die plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat word ook met misdadigers uit dié land verbind.

Wilken sê Lesotho het dieselfde krisisse as Suid-Afrika en die land kom ook uit ’n droogtetydperk.

“Jong mans kon altyd in Suid-Afrika in die myne kom werk, maar nou is daar nie meer werk nie.”

Die onlangse krisis met wolboere wat die helfte minder of geen betaling vir hul wol ontvang het nie, het die ekonomiese situasie in die land vererger, sê hy.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê ook sy glo die geweldige armoede in Lesotho dra by tot die misdaadsituasie in die Vrystaat.

Buys sê veediefstal is die grootste eiendomsverwante misdaad aan die grens. “Die polisie aan die grens benodig meer mense en beter toerusting,” sê sy.

Dit is tyd dat die polisie tegnologie inspan en hommeltuie en ander hulpmiddels begin gebruik.

Buys sê misdadigers uit Lesotho is baie aggressief en intimiderend en ’n chaos heers aan die grens.

“By Clocolan het boere wagte aangestel om hul oeste en ander eiendom te bewaak, maar die diewe dreig die wagte met die dood en dan wil hulle nie meer daar werk nie,” sê sy.

Daar is tot 30 plekke op die grens waar mense met gemak kan deurry of oorstap, en van die bendes skiet selfs op ons weermag.
Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL

Buys sê ’n ander groot probleem is dat boere al so moedeloos is dat hulle nie meer misdaad aan die grens aanmeld nie.

“Die statistieke reflekteer nie die ware prentjie nie en dan kan die polisie nie meer hulpbronne aanvra nie,” sê sy.

“Daar is tot 30 plekke op die grens waar mense met gemak kan deurry of oorstap, en van die bendes skiet selfs op ons weermag.”

Johann Stadler, Vrystaatse voorsitter van die veediefstalvoorkomingskomitee, sê daar was reeds 10 jaar gelede 300 000 beeste uit Lesotho wat in die Vrystaat gewei het.

Die beeste is al so ver as Hertzogville versprei en wei onwettig op boere se plase, asook meentgrond wat eintlik deur opkomende boere benut moet word.

“Ek weet van ’n boer teen die grens wat net 2 000 van sy 3 000 hektaar kan benut; die res word deur beeste uit Lesotho opgevreet.”

Stadler sê bendes uit Lesotho steel beeste in Suid-Afrika en sit vir hulle nuwe brandmerke op. Die beeste word dan weer oor die grens gebring en in Gauteng verkoop.

Stadler sê Lesotho-burgers het al minstens 590 brandmerke in Suid-Afrika geregistreer.

Meer oor:  Vrystaat Landbou (Vl)  |  Francois Wilken  |  Lesotho  |  Boere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.