Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
As hy eie prostese kry, wil hy weer klim

Al het ’n oud-Pretorianer sy regterbeen verloor toe ’n reuseklip hom in die Cederberge vasgepen het, wil hy weer berge toe, prostese en al.

Jethro Watson versterk sy beenspiere in ’n Kaapse rehabilitasiesentrum onder die wakende oog van sy fisioterapeut, Taylor Ross. Foto: Edrea du Toit

Jethro Watson (36) vertel in grafiese besonderhede op sy blog, Watsonsjourneys.com, hoe die rots sy been in Julie verlede jaar vergruis het.

Watson en sy Amerikaanse vriend Nick Muehlhausen (29) het saam met sy twee Duitse herdershonde, Luthien en Huan, by die De Pakhuys-kampeerterrein noord van Clanwilliam oorgebly. Hulle het die omgewing gefynkam vir moontlike bouldering-roetes (bouldering is ’n rotsklim­dissipline waar klimmers kort en tegnies uitdagende roetes op rotsblokke, slegs ’n paar meter hoog, klouter).

Watson sê terwyl hulle besig was, het ’n baie groot rots begin kantel. Hy het probeer wegkom, maar binne ’n breukdeel van ’n sekonde was die klip op hom en het dit sy bene vasgepen. Muehlhausen, wat ’n ent voor hom was, het sy hulpkrete gehoor en verskrik nader gehardloop. Hy het die reuserots met brute krag van Watson afgekry. Toe het hy ’n toerniket om Watson se bene gesit om die bloeding te keer.

‘Ek hét iets om te gee.’

Watson se linker- en regterbeen se tibia en fibula was onder die knie gebreek en die femur van sy regterbeen bokant die knie.

Muehlhausen moes eers ’n plek vind met genoeg selfoonsein om die nooddienste te ontbied.

“Terwyl ek daar gelê het en Nick hulp gaan soek het, was dit net ek, my twee honde, plus die verskrikking en die angs,” skryf hy.

Ure later het ’n reddingspan opgedaag en is hy per helikopter na Kaapstad gebring.

Jethro Watson destyds tuis in die Cederberge. Foto: Go Get Funding

Watson vertel hy het by die hospitaal aangekom “in ’n stadium net voor die liggaam heeltemal ingee”.

Op sy blog is grafiese foto’s van gapende wonde aan sy linkerbeen en ook van ’n konstruksie van staalpenne om die versplinterde bene vas te hou.

“My ervaring van meditasie het my in die ure ná die ongeluk deurgetrek: om my gedagtes van die wonde weg te hou en om te veg om wakker te bly, sodat ek nie sterf nie.”

Die linkerbeen is met ’n “stellasie” van penne bymekaar gehou.

Hy het elke dag in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal en van sy maande lange rehabilitasie as ’n “klein bergie” benader – om letterlik en figuurlik vorentoe te kan gaan.

Watson sê hy wil sy linkerbeen en kuitspiere só versterk dat hy weer kan rotsklim. Sy grootste uitdaging, die sielkundige berg voor hom, is om ysere dissipline aan die dag te lê en elke dag hard te werk om sy doelwitte te bereik – dít met ’n geleende prostese.

“Of ek weer gaan bergklim? Ek kan jou nie sê nie. Ek is altyd gretig om meer klimmers in die berge te kry. Om te klim toets jou deeglik en om meer van jouself te leer. So het ek al ’n groep klimmers van agtergeblewe gebiede gehelp. Die berg kan jou nederig maak – jy besef jy is maar ’n klein spikkeltjie in die heelal. Die berg kan jou ook doodmaak . . . Die ongeluk het my ’n duidelike lig gegee en ek hoop my verhaal kan ander inspireer en dat jy die draak – daardie dinge wat jou van vrees kan laat verstar – kan verslaan. En selfs al sou ek misluk, het ek ten minste probeer.

“Ek glo nie daardie feëverhaaltjie dat jy positief moet wees nie, maar dat alles wat jy elke dag aanpak, iets positief sal oplewer. Dít gee ’n doel aan jou lewe, dit gee geluk. Ek het die manier hoe ek lewe uitgedaag, die storm in my lewe baie goed deurgesien, aan my eie lewe neem nie eens gedink nie en net besef: Ek hét iets om te gee.”

Geld word nou aanlyn vir hom ingesamel sodat hy sy eie prostese kan aanskaf – om hom “terug te neem na die berge”.

Meer oor:  Cederberge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.