Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
As ’n museum vou, verloor ons van ons verlede

Kenners van museums is bekommerd oor die agteruitgang in die bewaring van Suid-Afrika se erfenis, veral nadat 50 museums reeds hul deure gesluit het.

Christo Rabie, bestuurder van opvoedkundige dienste van die Voortrekkermonument, verduidelik dat die artefakte wat in die nuwe opvoedkundige sentrum uitgestal gaan word vanuit die 20ste eeu kom en nie net dié geskiedenis voor 1994 uitbeeld nie. Foto: Deaan Vivier

Museumversamelings, uitstallings, bewarings- en museumverwante kundigheid het in ’n onlangse bestekopname deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns onder die loep gekom.

Luidens ’n verklaring deur die SA Akademie het meer as 50 van die 210 museums in Suid-Afrika die afgelope paar jaar tot niet gegaan en ’n verdere 50 verkeer in gevaar.

Dit sluit museums in soos Schoemansdal, Botshabelo, Winburg, Kroonstad, die Macrorie Huismuseum in KwaZulu-Natal, die landboumuseum in Worcester en verskeie dorpsmuseums.

“Dit is hoofsaaklik museums op die kleiner dorpe wat deur die munisipaliteit bestuur word. Hierdie museums beeld meestal die plaaslike geskiedenis van die dorp uit,” sê prof. Anton van Vollenhoven van Archaetnos, ’n maatskappy wat daarop gemik is om Suid-Afrika se ryk en diverse kulturele erfenis te behou en te bevorder.

Die ondersoek na die stand van Suid-Afrikaanse kultuurgoedere in verskeie museums is op versoek van die SA Akademie deur kundiges uitgevoer.

“Indien die korrekte museumkundige bewaringsbeginsels nie dringend toegepas word nie, sal baie onvervangbare voorwerpe tot niet gaan. Die ‘stories’ en kultuurkonteks van die voorwerpe, en gevolglik ook ’n kosbare deel van die Suid-Afrikaanse verlede, sal verlore gaan indien nie vinnig opgetree word nie,” lui die verklaring.

Christo Rabie, die bestuurder van opvoedkundige dienste van die Voortrekkermonument, in die opvoedkundige sentrum wat nog onder konstruksie is. Dit sal voor die einde van die jaar oop wees. Foto: Deaan Vivier

Museums, net soos monumente en ander kultuurbakens, bevestig die spore van ons verlede, sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

“Museums is ook veronderstel om ’n veilige bewaarplek van historiese artefakte te wees wat deur kundiges bestuur en onderhou word.”

Museums kan waarde toevoeg tot die skoolkurrikulum wat in die nabye toekoms ook weer geskiedenis as verpligte vak gaan insluit, sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting.

In Suid-Afrika is daar verskillende vlakke van museums, sê Kruger.

Daar is nasionale museums wat deur die departement van kuns en kultuur gefinansier en bestuur word. Dan is daar verskeie provinsiale museums wat deur die onderskeie provinsiale owerhede bestuur moet word.

Dan is daar ook dorpsmuseums wat deur munisipaliteite bestuur moet word.

“Soos wat dienslewering op alle vlakke ’n probleem is, is dit ook die provinsiale en veral dorpsmuseums wat baie swaarkry en tot niet gaan. Daar is heelwat private museums wat ontstaan het omdat sekere individue ’n passie het vir ’n deel van ons geskiedenis of vir ’n spesifieke tema,” sê Kruger.

Die private stoorkamer by die Voortrekkermonument met memorabilia wat vir navorsing benut word. Die Voortrekkermonument se versamelbeleid konsentreer op die Voortrekkers, die pionierstyd en die Anglo-Boereoorlog tot by die rebellie in 1914, en dan die hoeksteenlegging (1938) en inwyding (1949) van die Voortrekkermonument. Foto: Deaan Vivier

“Een ding is seker, erfenisbewaring en die bedryf van museums is baie moeilik selfonderhoudend.”

Die meeste nasionale museums het ook temas en moet volgens daardie tema ’n versamelbeleid hê.

“Ongelukkig is dit so dat museums en monumente of erfenisterreine redelik dikwels die storie van die dag vertel. Suid-Afrikaanse museums is ná 1994 onder groot druk om te transformeer. Só is daar begin om die storie van die struggle in soveel as moontlik museums uit te stal, ongeag of die politiek deel is van die tema van die museum of nie. Op dié manier het museums begin om hul identiteit te verloor en het besoeke afgeneem.”

Die dominante groepe wie se geskiedenis voorheen hoofsaaklik in museums uitgebeeld is, is volke en argeologie, en die Afrikaner-geskiedenis, sê die historikus prof. Fransjohan Pretorius.

“Dit het egter in 1994 verander en twee probleme tot gevolg gehad. Dit het transformasie teweeggebring in die museums en die personeel wat toe aangestel is, het nie die kundigheid en opleiding om ’n gebalanseerde aanbieding van die geskiedenis te gee nie. Die klem word nou op die struggle geplaas. Dit moet verteenwoordig word, maar dit kan nie die vorige erfenisse verdring nie,” sê Pretorius.

Hierdie versameling is in ’n stoorkamer geberg en slegs oop vir navorsingsdoeleindes. Foto: Deaan Vivier

Hy verwys onder meer na ’n geval waar ’n skoonmaker as die museumkurator aangestel is.

“ ’n Ander probleem is dat daar nie voldoende geld is om dié museums op datum te bring nie, dus word van die Engelse en Afrikaanse historiese reste in ’n stoorkamer geberg. Dit hou katastrofiese gevolge in vir die behoud van die artefakte en van dit verdwyn dan. Die bewaring van hierdie artefakte is baie belangrik. Stof het ’n negatiewe invloed op die behoud daarvan,” sê Pretorius.

“In plaas daarvan dat ’n balans van die diverse kulturele groepe uitgebeeld word, is daar nou getransformeerde museums waar die geskiedenis van die Engelse en wit Afrikaner nie meer figureer nie.”

Volgens Kruger trek die Eurosentriese afstammelinge aan die kortste end en word daardie geskiedenis nou gekriminaliseer.

“ ’n Mens kan nie een groep uitsonder en hul storie in isolasie vertel nie.

“Erfenisbewaring, waarvan museums ’n groot deel uitmaak, is nou maar eenmaal gekoppel aan emosie en politiek – hoe ons dit gaan oorkom, is ek nie seker nie. Om ‘Afrikaner’ of dan Europese voorwerpe te versamel om hulle van gewisse uitwissing te red, kan seker ’n rol speel as dit vir onderrig en opleiding en navorsing gebruik word,” sê sy.

Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument is geregistreer as ’n art. 21-maatskappy (maatskappy sonder winsbejag). Dit is ’n private instansie wat nie geld van die regering ontvang nie en grootliks afhanklik is van besoekers se toegangsgeld, sê Etta Judson, museumkundige van die Voortrekkermonument.

“Ons probeer ook geld insamel en dan is daar geriewe wat ons verhuur en funksies wat ons aanbied. Ons vra ook vir skenkers om hulp as ons ’n projek wil aanbied,” sê sy.

Die Voortrekkermonument is ’n gewilde toerismebestemming, sê Judson. “Die mense is verstom oor die aantreklike gebou en sy interieur en die geskiedenis van Die Groot Trek.” Die monument is dus “hoegenaamd nie” in gevaar nie, sê sy.

Die Voortrekkermonument se versamelbeleid konsentreer op die Voortrekkers, die pionierstyd en die Anglo-Boereoorlog tot by die rebellie in 1914, en dan die hoeksteenlegging (1938) en inwyding (1949) van die Voortrekkermonument. Benewens die museums in die Voortrekkermonument is daar ’n private stoorkamer met memorabilia wat vir navorsing benut word. “Die versameling is klein weens beperkte spasie, maar ons maak selektief bymekaar. Ons koop selde iets aan. Die meeste memorabilia is deur mense geskenk,” sê Judson.

Die Voortrekkermonument open binnekort ’n opvoedkundige sentrum wat artefakte van die 20ste eeu sal uitstal. Skoolgroepe en toeriste sal toegang tot hierdie opwindende nuwe sentrum hê. Christo Rabie, die bestuurder van opvoedkundige dienste van die Voortrekkermonument, behartig hierdie nuwe inisiatief.

Artefakte vanuit die meer onlangse verlede wat in die opvoedkundige sentrum uitgestal gaan word. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Bewaring  |  Museum  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.