Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
As ’n soldaat en pa in die vreemde sterf

Op 1 Junie tien jaar gelede is ’n oudsoldaat, Jerry Oosthuizen (47) van Bloemfontein, in ’n ongeluk in Haïti dood. Sy dogter, Jeretha, het begin met ’n boek oor sy lewe, die ongekende band van liefde tussen ’n pa en dogter, en sy dood. Charles Smith het met haar gesels en vertel hul storie.

‘Liefste Jeretha.

“Pappa skryf hierdie e-pos aan jou uit die diepste van my hart en met groot liefde. Ek is so trots op jou en jy maak my hart so gelukkig en sommer makliker om hier te werk . . .”

Jeretha Oosthuizen (26), ’n voormalige joernalis en sakevrou van Bloemfontein, bewaar elke woord, elke besitting, elke medalje van haar pa, Jerry. Dié e-pos aan haar se datum is 2010/03/23.

Jeretha Oosthuizen (26) met die as en medaljes van haar pa, Jerry, wat op 1 Junie 2010 in Haïti dood is. Sy het begin om ’n boek oor hom te skryf en om die waarheid omtrent sy dood uit te vind. Jerry was in lewe bevelvoerder van 151 Bataljon by Thaba Nchu in die Vrystaat, wat later ook veiligheidswerk in Irak en Afganistan gedoen het. Sy hou sy uniform in die eertydse Suid-Afrikaanse weermag vas waar hy as luitenant-kolonel uitgetree het. Sy is in baie opsigte haar pa se ewebeeld en sê hulle was onafskeidbaar. Foto: Mlungisi Louw

Sy het die boodskap die aand om 20:42 gekry. In die tien jaar het sy dit ’n duisend keer gelees. Die sinne gefynkam vir leidrade. Vir tekens van haar pa. Sy reuk, sy lag. Iets van dié groter as groot soldaat.

“Almal het van hom as die sagmoedige reus gepraat. Almal het hom geken. Hy was ’n mens-mens. Ons twee was onafskeidbaar.”

Sy kyk na die boodskap wat sy van haar foon aangestuur het.

Sy dra dit elke dag by haar.

Dit was agt dae voor die verskriklike dag toe sy as gr. 10-leerling aan die Eunice High School die nuus van sy dood in Haïti gekry het.

Hy het vir die maatskappy Reeds International van die voormalige Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder Marius van der Riet veiligheidswerk in Irak en Afganistan gedoen voordat hy na Haïti is waar hulp verleen is ná die aardbewing op 12 Januarie 2010 waarin sowat 160 000 mense dood is.

Hy is gekontrakteer deur die PHS Group, ’n Amerikaans-Haïti-ingenieursfirma van Silver Spring, Maryland, wat gehelp het met die opruiming van die puin op die eiland.

Haar wêreld het ineengestort.

Jerry Oosthuizen (met die Springboktrui) en sy dogter, Jeretha, kuier saam met ondersteuners van die Britse Leeus ná die wedstryd teen die Cheetahs op 6 Junie 2009 in die Vrystaatstadion. Hy is ’n jaar later, op 1 Junie 2010, dood.

“Jy is klaar groot, want jou optrede wys hoe volwasse jy is. Bly fokus op dit wat belangrik is in die lewe wat jou toekoms verseker,” skryf Jerry aan sy blondekop. Sy is haar pa se ewebeeld op foto’s.

“Lag baie, geniet die lewe en behou altyd jou waardes. Moet nooit vergeet van wie jy jou krag kry nie. Bly naby Liewe Jesus en bid.”

Haar pa moes op 8 Junie huis toe kom. ’n Week voor hul vlug is hy dood.

Op Jerry Oosthuizen se roudiens aan die buitewyke van Port-au-Prince, hoofstad van Haïti, het die John Denver-liedjie "Leaving on a Jet Plane" gespeel. Hy het altyd hierna geluister.

All my bags are packed

I’m ready to go

I’m standin’ here outside your door

I hate to wake you up to say goodbye

But the dawn is breakin’

Jerry Oosthuizen met ’n tulband en AK47-geweer in Afganistan. Hy was van 2005 tot 2009 in Irak en Afganistan.

Jeretha het uitgesien dat die jet plane haar pa terugbring na haar.

Na hul huis in Universitas, Bloemfontein, waar hulle in die lapa kuier en hy die liedjie "Hillbrow" van Johannes Kerkorrel op die kitaar tokkel. Hy was op sy gelukkigste in sy lapa.

Hulle het altyd Sondagaande die program Jukebox gekyk wat Kurt Darren aangebied het.

Hulle het op die bank gesit en sy het op sy skouer gelê.

Jerry se bynaam vir haar was Mielies.

“Hy het nog gesê hy wil ’n tatoe van mielies op sy bors kry . . .”

Sy het lank gesukkel om te aanvaar haar onvernietigbare pa, die soldaat wat die Grensoorlog en Irak en Afganistan oorleef het, is in ’n fratsongeluk dood.

“Ek het gehoor ’n 14 ton-vragmotor het oor hom gery, oor sy regterheup en bors, maar daar was geen letsels op sy liggaam nie.

Jerry Oosthuizen in Irak as private veiligheidskontrakteur.

“Ons is ook laat weet dat hy op slag dood is. Maar ’n paramedikus het gesê hy het nog gelewe toe hy by die hospitaal aangekom het.”

Die doodsertifikaat het aangetoon hy is weens multi-orgaanversaking dood.

“Ek wil weet presies hoe hy dood is. Ek wil die waarheid weet.”

Die verduideliking dat hy warm gekry en in die skaduwee van ’n vragmotor se wiel gaan staan het om koeldrank te drink, die vragmotor agteruit geloop, hy gestruikel en die vragmotor oor hom gery het, maak nie sin nie.

“My pa, ’n ervare soldaat, wat so ’n fout maak, en dit sonder ’n merk op sy liggaam?”

Jerry Oosthuizen (geb. 31 Januarie 1963) se fotoalbum van sy diensplig is ’n uitstekende foto-dokumentêr van ’n jong soldaat in die weermag. Hy het sy junior leierskursus in Oudtshoorn voltooi. Sy foto’s van sy tyd op die grens is goed uiteengesit.

“12 van my buddies is dood in die chopper. Bats,” staan by die foto van ’n wrak van ’n Puma-helikopter onder die hofie “Ongiva”.

Hy verwys na ’n voorval op 9 Augustus toe Plan-magte die helikopter afgeskiet het: 12 valskermsoldate en drie lugmaglede is dood.

Meer as 100 Plan-vegters is daarna doodgeskiet en op 10 Augustus het Mirage-vegvliegtuie en Alouette-aanvalshelikopters die vyandelike basis 30 km noord van Cuvelai in Suid-Angola aangeval en is 116 Plan-soldate doodgeskiet.

’n Foto wat Jerry Oosthuizen van die verwoeste geboue in Haïti ná die aardbewing geneem het. Hy is op 1 Junie 2010 in Haïti in ’n fratsongeluk dood.

Jerry Oosthuizen se foto’s van die lyke van die vyand wys die grusame detail van die oorlog. Hy was vermoedelik ’n lid van 61 Meg wat deel was van die operasie. Die weermag was in sy bloed.

“Ons het hulle egter dubbel en dwars teruggekry,” staan by die foto’s.

Jeretha kyk na die foto’s en luister na die konteks van haar pa se verhaal as soldaat.

Jerry was woedend vir hom toe hy nie ’n bevorderingspos as stafoffisier gekry het nie, sê genl. Hans Heinze, eertydse hoof van Kommandement Oranje-Vrystaat, oor sy kollega en vriend.

Maar toe die pos van bevelvoerder van 151 Bataljon in Thaba Nchu ses maande later beskikbaar raak, het hy vir Jerry gesê: “Dáár is ’n pos wat uitgeknip is vir jou.” Jerry was toe ’n luitenant-kolonel.

“Jerry was ’n uitstekende soldaat, ’n ou wat regtig vir sy mense omgegee het. Dit was sy sterkste eienskap. Hy het alles vir sy ondergeskiktes ingesit. Sy bynaam was die Groot Leeu. Dis hoe die troepe hom genoem het. Dit is ’n groot eerbewys. Baie praktiese soldaat. Hy het dinge laat gebeur.”

Ná die weermag het hulle groot vriende geword, sê Heinze. Hy is min of meer dieselfde tyd uit die weermag. Hulle het twee veiligheidsmaatskappye gestig. Jerry was ’n aandeelhouer.

Die Grensoorlog. Jerry Oosthuizen se foto’s van sy tyd op die grens in 1982 is ’n goeie versameling van ’n dagboek van ’n soldaat se lewe. Die foto in ’n loopgraaf is waarskynlik in opleiding vir grensdiens geneem.

Heinze sê hy wou Jerry se vrou, Trudie, ’n week of wat terug bel en hoor hoe dit gaan. Net toe hy haar nommer wou druk, speel die liedjie wat Jerry in sy lapa gespeel het oor ’n radio: Kerkorrel se "Hillbrow".

“Dit kan nie toeval wees nie.”

Heinze dink ’n oomblik na oor sy vriend.

“Jy weet, Jerry was so ’n ou: As hy iets vir iemand kon gegee het, sou hy. Hy was ’n mens-mens.

“Ek dink altyd aan Jeretha as ek aan Jerry dink. For you I kill a bull . . . Dit was sy sêding. Los sy Mielietjie uit. Sy was sy alles.”

Alhoewel, sê hy, Jerry het op die uiteinde alles gedoen om dinge reg te maak met sy kinders uit ’n vorige huwelik, veral sy seun Jacques: Ek is nog jou pa, ek is lief vir jou, wou hy wys.

“Dit was Jerry. Hy kon raas en skel en tekere gaan. Maar in sy hart was hy ’n baie diep mens.”

Jy kry nie meer pa’s en dogters wat só naby mekaar is nie, sê Jeretha oor hul verhouding.

“Ons was letterlik altyd saam. As hy gholf speel, by vriende is, of ons winkel toe gaan, was ons saam. Ons was saam rugby toe.”

Die Grensoorlog. Jerry Oosthuizen se foto's van sy tyd op die Grens in 1982 is 'n goeie versameling van 'n dagboek in 'n soldaat se lewe. Die foto in 'n loopgraaf is waarskynlik in opleiding net voor die Grens geneem.

Een van hul laaste foto’s saam is op 6 Junie 2009 by die wedstryd tussen die Cheetahs en die Britse Leeus in die Vrystaatstadion. Die Britse Leeus het net-net met 26-24 gewen. Op die foto het hy ’n Springboktrui aan. Dit was ’n jaar voor sy dood.

“Hy was die grootste deel van 2009 sonder werk. Hy het gesê hy wil nie weer so lank van ons weg wees nie. Ons kon toe baie dinge saam doen.”

Sy is uitgeknip haar pa. Sy hou van rugby, musiek, kosmaak. Sy maak steeds baie van haar pa se geregte. Hy was lief vir seekos, potjiekos, bredies. “Niemand kan paella maak soos hy nie.”

Jeretha sê haar boek sal oor haar en haar pa se verhouding gaan.

Sy het een oggend met ’n skok besef dat hy besig is om van haar weg te gaan: sy sêgoed, reuke, die klank van sy stem.

Daarom wil sy weet wat regtig gebeur het. En sy storie neerpen.

Sy het altyd kontak gehad met sy bestuurders in Washington DC, maar nadat sy begin vrae vra het, is die verhouding verbreek.

Jeretha op een van die laaste foto’s saam met haar pa.

Jeretha het van pa Jerry se klere, uniform en sy medaljes by haar.

Sy as is ook in haar kamer in hul huis in Universitas.

Jeretha stuur foto’s van haar pa met ’n AK47-geweer en kopdoek in Afganistan aan. Ook foto’s wat hy in die verwoeste Haïti geneem het. Elke foto, e-pos en brokkie inligting is ’n deel van die legkaart van sy lewe. Een wat sy gaan herbou.

Pa Jerry, wat in sy tweede laaste e-pos belowe het hy gaan hulle MAL kuier.

“Dankie vir al jou gebede. Ek het dit nodig. Die plek is stukkend uitmekaar uit ná die aardbewing. En die mense, veral die vroue en kinders, kry baie swaar. Ons het soveel om voor dankbaar te wees.

“Jy moet mooi kyk na jouself. Jy is ’n pragtige jong vrou.”

In die laaste e-pos voordat die jet plane met haar pa en held val, groet hy sy Mielies: “Jy is die beste. Baie soene en drukke. Pappa.”

  • Navrae oor die presiese omstandighede rondom die dood van Jerry Oosthuizen is aan Marius van der Riet van Reeds International in Washington DC, Amerika, gestuur.
Meer oor:  Bloemfontein  |  Soldaat  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.