Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aspirant-apteker wen groot
Raeesa Jooma het R35 000 losgeslaan in ’n kompetisie vir aptekerswesestudente. Foto: SUSAN CILLIERS

Potchefstroom. – ’n Puk-student in aptekerswese het prysgeld van R35 000 van ’n interna­sionale farmaseutiese maatskappy gekry danksy haar uitsonderlike vermoë om met pa­siënte oor hul medikasie te praat.

“Ek het nie eens geweet of ek vir die kompetisie wil inskryf nie,” het Raeesa Jooma, ’n tweedejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, gister gesê.

“Ek het tog besluit om vir my ma se onthalwe in te skryf en gevra sy moet vir my bid. Ek kon nie glo toe ek hoor ek wen nie. God is groot.”

Dr. Mariëtta Basson, senior lektor in farmasiepraktyk by die NWU-Pukke, sê die doel met die kompetisie is om studente se vaardigheid te toets om met pasiënte oor hul medikasie te praat.

“Dit is die tweede jaar dat ons die kompetisie aanbied in ons kurrikulum oor kommunikasie vir aptekers. Die farmaseutiese maatskappy Astra­Zeneca borg die pryse.”

Jooma is vir die doel van die kompetisie teoreties en prakties geëvalueer. Kundiges van die maatskappy, die NWU en ’n apteker het die mondelinge deel van die kompetisie beoordeel.

Jooma is vir dié deel verfilm waar sy met ’n “pasiënt” praat oor medikasie vir ’n maagseer.

“Die (denkbeeldige) pasiënt het nie gereeld medikasie gebruik nie. Ek moes met hom praat om vas te stel wat presies die probleem is, watter soort inligting hy tevore oor die medikasie gekry het en watter gevare dit inhou om nie medikasie te gebruik nie.

“Dit gaan oor empatie en nie soseer oor wat jy weet nie, maar wat die pasiënt verstaan.”

Jooma sê Basson het haar gemotiveer om in te skryf en alles ingesit om haar te help voorberei vir die kompetisie.

“Sy het die rol van die pa­siënt gespeel en gemaak of sy nies of maagpyn het. Ons dosente is behulpsaam, passievol en wil regtig hê ons moet presteer. Hulle voel soos familie.”

Jooma het ’n tweelingsuster, Aneesah, wat ook aptekerswese studeer. Raeesa sê die R35 000 gaan nuttig te pas kom vir albei se studie. Die twee susters droom daarvan om in die toekoms navorsing te doen.

Hulle vertel hulle het reeds op skool in New­castle, KwaZulu-Natal, goed in wiskunde en wetenskap presteer.

Hul pa, Abdul-Kader, is ’n sakeman en hul ma, Fazila, voorsien die NWU-Pukke van halaal-kos. Die tweeling het ’n ouer en ’n jonger suster.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.