Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Ons wil Afrika-tale insluit by ATKV'

Die ATKV wil ’n wyer gemeenskap as nét die Afrikaanse gemeenskap bereik en glo dat deur ander tale in te sluit, hy meer in Suid-Afrika vir nasiebou kan doen.

Sy wil brûe bou en ’n verskil in die land maak, sê Deidre le Hanie, uitvoerende hoof van die ATKV. Sy het sowat drie maande gelede die leisels by Japie Gouws oorgeneem.

Deidre le Hanie, uitvoerende hoof van die ATKV.Foto: Cornel van Heerden

Le Hanie het Maandag op ’n mediagesprek haar visie oor die ATKV gedeel, en veral gefokus op die projek Afrikaans PLUS.

Die projek kom daarop neer dat die ATKV ander Afrika-tale in veral sy onderwysprojekte wil insluit.

Hulle bereik nie genoeg mense nie en kan met hul gevestigde projekte en infrastruktuur baie meer doen.

“Met Afrikaans PLUS sê ons ons is trots Afrikaans, maar ons is nie selfsugtig nie.”

Jy’s nie divers as jy net twee tale kan praat nie. Jy is divers wanneer jy daardie ekstra myl loop.
Deidre le Hanie, uitvoerende hoof van die ATKV

Die ATKV bereik jaarliks 600 000 kinders, maar wat van die res, het sy gevra? “Daar is ’n behoefte om verder uit te reik en meer lewens aan te raak. Ons is trots op dit wat ons gedoen het, maar saam kan ons meer doen.”

“As dit nie was dat ons land so ’n krisis gehad het nie, as die nood nie daar was nie, glo ek nie ek sou by die ATKV aangesluit het nie, want wat sou daar vir my gewees het om te doen?

“Ek kan nie net aangaan soos altyd nie – ek moet ’n verskil kan maak.

In ’n openhartige onderhoud met Netwerk24 ná die mediagesprek het sy gesê dit gaan vir haar oor respek vir haar medemens en dat taal ’n manier is om daardie respek te kry. “Hoe demonstreer ’n mens regtig respek vir iemand? As jy hom in sy taal kan aanspreek, is dit nie? In ons land het ons vir baie jare net Afrikaans of Engels afgeforseer.

“Wat sal dit nie vir al ons ander Afrika-sprekers beteken as ons minstens een Afrika-taal magtig is nie? Is dit nie nasiebou nie? Is dit nie respek demonstreer nie? Is dit nie inklusief wees nie?

“Jy’s nie divers as jy net twee tale kan praat nie. Jy is divers wanneer jy daardie ekstra myl loop.”

Sy sê dit begin by die huis – van die taal in jou huis praat, tot godsdiens vir jou kinders leer. “So ons eie organisasie gaan nou deur daardie derdetaalklasse. Ons begin by die huis. En ek ook.

“Ek glo as almal net hul deel doen – dit beteken nie jy kan opstelle skryf en eksamenvraestelle beantwoord nie – dit beteken net jy kan ’n respekvolle gesprek voer. Iemand groet, terugpraat, mooi praat, ’n probleem verduidelik, wat ook al. Daardie basiese begrippe kan deel.”

Sy sê sy kan nie van lede verwag om ’n derdetaal te leer nie, maar wil dit binne in die ATKV begin.

“As ons dit binne in die ATKV lewe – as ons takstrukture daardie visie uitleef – dan gaan dit tog aan die einde van die dag by die lede uitkom. Dit sal takke meer verteenwoordigend maak. As ons nie daardie tale kan praat nie, sal ons sukkel om daar te bestuur, sou ek dink.

“Dis om brûe te kan bou en te kan stap.”

Haar persoonlike mikpunt is om teen Februarie 2018 ’n miljoen lede te hê.

Ons sal altyd groot waardering hê vir Afrikaans want Afrikaans is ons kultuurtuiste. Dit is die PLUS wat die verskil gaan maak.
Deidre le Hanie, uitvoerende hoof van die ATKV

Wat sê sy vir die Afrikaanse gemeenskap wat voel hul taal is in gedrang?

“Ek wil graag sê dat die ATKV steeds die Afrikaner se kultuurtuiste is. Niks van dit is weggevat nie. Dit is wat ons addisioneel gaan doen – die plus. Ek glo dat ons Afrikaanse gemeenskap ’n hart daarvoor het. Ek dink nie hulle gaan voel iets word van hulle weggeneem nie, maar hulle gaan voel as ’n Afrikaanse gemeenskap dra ons by tot die uitdagings in ons land en om dit op te los. So ek dink dit gaan eerder trots skep.”

Sy is opgewonde oor dié rol en ook “ernstig oor die rol wat die ATKV speel en die toekomstige rol wat ons behoort te speel”.

“Maar ek weet ek is op die regte plek, op die regte tyd.

“Die organisasie is die regte omgewing. Ons twee het net bymekaar uitgekom.

“Ek voel ek is in ’n bevoorregte posisie, en daarmee saam kom baie verantwoordelikheid. Ons lede wat ons gebring het tot waar ons vandag is, moet weet hulle is deel van die visie.

“Hulle moet ons help om die visie uit te leef. Hulle was altyd getrou. Ons sal altyd groot waardering hê vir Afrikaans want Afrikaans is ons kultuurtuiste. Dit is die PLUS wat die verskil gaan maak.”

Meer oor:  Atkv  |  Kaapstad  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.