Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Atleet met een been sal Ysterman wéér pak

’n Atleet sonder ’n regterbeen wat die Halwe Ysterman én die Comrades voltooi het, wil volgende die volle Ysterman Afrika-kampioenskap in Port Elizabeth voltooi.

Hein Venter is Xolani Luvuno se mentor wat hom van dwelms af gehelp het om van hom ’n atleet met een been te maak. Foto: Deon Raath

Xolani Luvuno (34), wat sy regterbeen in sy 20’s weens kanker verloor het, het twee weke gelede aan die Ysterman deelgeneem, maar kon dit net-net nie voltooi nie nadat hy sy hand gebreek het.

Hy het al die swem-afdeling en fietsry-item voltooi.

In die ruimte waar hy moes aantrek om vir die laaste gedeelte te gaan draf, het hy tussen ’n klomp plastiekstoele sy balans verloor en geval.

Sy regterhand is kritiek vir sy balans.

Hein Venter (54), sy afrigter en mentor wat altyd saam met hom deelneem, sê hulle kan steeds nie glo dat die ongeluk hom so getref het nie. “Hy het al hard geval van sy fiets af,” sê Venter. “Krapmerke aan sy skouers, stukkende hemde, alles. Maar hy het nog nooit iets ernstigs oorgekom nie.

“Nou val hy waar hy nie eens hardloop nie.

“Ons altwee is nogal verbaas dat hy nie tot op die einde kon hardloop nie.”

Luvuno sê hy gaan beslis weer volgende jaar Ysterman toe. “Nie om weer te probeer nie, maar om dit ordentlik klaar te maak.”

Venter, ’n sakeman van Pretoria, vertel hoe hy vir Luvuno op straat ontmoet het.

Hy was ’n bedelaar wat van die Oos-Kaap na Gauteng toe getrek het.

Luvuno het by ’n verkeerslig in Irene, Pretoria, gestaan en bedel.

“Ek was verslaaf aan nyaope (’n straatdwelm),” sê hy.

“As Hein my nie gehelp het nie, het ek waarskynlik lankal nie meer gelewe nie.”

Venter sê dit was die vriendelikste bedelaar wat hy ooit gesien het.

“Ek het eendag stilgehou en met hom gaan gesels.

“Ek het besef hierdie man het potensiaal en ek wou vir hom drie goed gee: ’n slaapplek, ’n werk en ’n kunsbeen. En ek het.”

Venter het ’n klomp werkers Comrades toe gevat en Luvuno was saam.

“Die gogga het my gebyt,” sê Luvuno.

Hy het nog intense pyn in sy hand en hoop dit herstel binnekort.

Hy het hom klaar ingeskryf om vanjaar weer aan die Comrades deel te neem én aan die Wildcoast Wildrun.

En in November gaan hy Amerika toe om aan die New York-marathon deel te neem.

“Ek sien die meeste daarna uit, want ek was nog nooit oorsee nie.”

Meer oor:  Xolani Luvuno  |  Atleet  |  Gestremdes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.