Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Atleet pak Comrades by sy huis aan vir skool
Bennie Roux, ’n gesoute marathonatleet, sal Saterdag die afstand van die Comrades by sy huis in Centurion ten bate van liefdadigheid aflê.Foto: Felix Dlangamandla

Sommige mense het besluit om tydens die nasionale staat van inperking nuwe resepte uit te toets. Ander het hul motorhuise in ’n gimnasium omskep of joga begin doen.

Die marathonatleet Bennie Roux (42) vat dit ’n stappie verder en wil Saterdag 89 km, naastenby die lengte van die Comrades-marathon, by sy huis hardloop.

Roux verwelkom ’n mens vriendelik by sy huis in Centurion in sy swart oefenbroek wat dit laat lyk of die gesoute atleet enige oomblik reg is om weg te spring.

Hy het nie sommer die uitdaging lukraak aangepak nie, sê Roux.

Aanvanklik het hy die video van iemand in Frankryk gesien wat 42 km op sy balkon aflê.

“As die Fransman dit kan doen, dan kan ek ook,” sê Roux.

Hy het op Vrydag 27 Maart 42 km afgelê. Daarna het van sy vriende hom begin uitdaag om sommer die Comrades ook te voltooi.

Die sokkies met die Suid-Afrikaanse vlag daarop is dieselfde as wat Bennie Roux verlede jaar in Amerika gedra het toe hy ’n derde plek in die Moab-marathon behaal het. Foto: Felix Dlangamandla

“Maar ek het gesê ek sal dit net doen as ek ’n rede het.”

Die rede het Woensdag in die vorm van ’n oproep van Suzette von Broembsen gekom.

“Sy het gebel en raad gevra oor hoe om 42 km by haar huis te hardloop. Sy het bygevoeg dat hulle reeds só R160 000 vir die Con Amor-skool in Kempton Park ingesamel het.”

Die skool fokus op kinders met ernstige intellektuele gebreke.

Toe Van Broembsen sê haar onderneming sal R50 per km borg as hy die Comrades by sy huis ten bate van die skool af te lê, was sy kop deur.

Intussen het hy nog borge gekry en hy staan nou op R200 per km.

Roux was nie altyd die atleet wat hy vandag is nie.

“Op skool het ek nooit eintlik aan atletiek deelgeneem nie, maar ek het baie fiets gery,” sê Roux, wat in Reitz in die Vrystaat grootgeword het.

“Toe ek in die groot stad by Tuks (Universiteit van Pretoria) aankom, het ek gedink die karre gaan my doodry.

Ek het ’n ander manier van oefen gesoek en my broer Hendrik het toe reeds 3 keer die Comrades voltooi.

Bennie Roux sê sy vrou en kinders ondersteun hom altyd. Hier is Ruben (11), Hugo (13) en Sion (4). Foto: Felix Dlangamandla

Ons is baie kompeterend en ek wou hom wys dat ek dit darem ook een keer kan doen.”

Die gogga het hom net daar gebyt en hy het al 11 Comrades-marathons voltooi.

Roux het ook al drie keer die Munga-ultramarathon gewen en hy het verlede jaar aan die Moab-marathon in die VSA deelgeneem waar hy ’n algehele derde plek behaal het.

Roux sê sy vrou, Isabel, en hul drie kinders, Hugo (13), Ruben (11) en Sion (4), is sy grootste ondersteuners en sal Saterdag dele van die wedloop saam met hom hardloop.

Hy vermoed dit sal hom naby aan 11 ure vat om dit te voltooi, “want die draai om die huis breek jou spoed”, Maar niks gaan hom keer nie, want hy weet dis vir ’n goeie doel.

Enigeen wat ’n bydrae wil lewer, kan na www.bouttime.co.za gaan.

Bennie Roux sê hy sal die 250 m roete om sy huis 360 maal moet voltooi om die afstand van die Comrades af te lê. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Koronavirus  |  Bennie Roux  |  Covid-19  |  Comrades-Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.