Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Atlete hardloop ‘blind’ vir liefdadigheid
Op julle merke, gereed . . . Anastacius Anton (heel regs, 25), Vrystaatse langafstandatleet, wou weet hoe dit voel om ’n blinde atleet te wees. Foto: Mlungisi Louw

Atlete en drawwers met sig het Woensdagaand in Bloemfontein eerstehands die wêreld van ’n blinde atleet ervaar toe hulle geblinddoek ’n wedloop oor 400 m voltooi het.

Altesaam 42 atlete het hulle net voor 18:00 by Pelliespark op die Kovsiekampus in die Rosestad aangemeld en hulle met helderkleurige bande laat blinddoek.

Elkeen het ’n vriend of mede-atleet as gids ingespan.

“Vanaand is groter as net ’n wedloop, dit is om bewustheid te wek,” het Louzanne Coetzee (25), die blinde wêreldrekordhouer wat in die T11-klas deelneem, gesê.

Die inskrywingsgeld, wat R100 vir elke span van twee was, is aan die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging geskenk.

Corné Roberts en Angel Kivido in aksie. Agter hulle is Louzanne Coetzee en Godfrey Ramokone. Foto: Mlungisi Louw

Coetzee, koshuismoeder van die Akasia-koshuis op die UV-kampus, het vroeër vanjaar die wêreldrekordhouer in die 5 000 m geword en die Afrika-rekord in die 800 m agter haar naam geskryf.

Volgens haar is die reël met wedlope vir blindes gewoonlik dat daar nie meer as 12 mense op die baan mag wees nie. Meer as 84 atlete en ondersteuners het egter Woensdag onder die spreiligte vir die byeenkoms saamgedrom.

Daar was eers uitdunne, waarna die wenners teen Coetzee, met Godfrey Ramokone as haar gids, gehardloop het.

Die twee het die pretwedloop in 76 sekondes kafgedraf, en so vyfde gekom.

Danie Breytenbach (24), ’n volkome blinde atleet wat die nasionale rekord in die 800 m en 1 500 m hou, en Anastacius Anton (25), sy gids, het die eindronde gewen en dit binne 61 sekondes voltooi.

Corné Roberts en Angel Kivido tydens die finale rondte met Louzanne Coetzee en Godfrey Ramokone kort op hul hakke. Foto: Mlungisi Louw

Anton, ’n Vrystaatse padwedloopkampioen, sê hulle oefen al twee jaar saam.

“Ek moet vir jou eerlikwaar sê, ek het nie gedink ons sal vir Louzanne-hulle wen nie,” het Breytenbach uitasem gesê.

Hy oefen maar nog net drie weke ná ’n knieskyf-operasie.

Groepies mense wat saam werk, het ook as deel van ’n spanbousessie aan die wedloop deelgeneem.

“Toe ons spoed vang, was dit baie moeilik om op die baan te bly,” het Henrico Trollip, ’n atleet met sig, net ná die uitdunne gesê.

Hy en Xavier Adams (23) is oefenmaats van Coetzee en Breytenbach. Hulle het die finale ronde in 67 sekondes voltooi en derde gekom.

Ook kinders, onder wie enkele blinde atlete, het gretig saamgehardloop.

Leshana Henning (32), ’n administratiewe klerk van die stad, het haar ingeskryf vir haar seuntjie, Henrikus (5), wat blind gebore is.

“Ek wou graag beleef wat hy daagliks moet deurgaan. Dit was angswekkend om so te hardloop.”

Rufus Botha, afrigter van Coetzee, sê die doel was om atlete ’n gevoel te gee van wat ’n blinde atleet moet beleef.

Meer oor:  Atletiek  |  Atlete  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.