Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aussies nooi weer ‘vlugtelinge’ uit SA

’n Tweede Aussie-minister het die afgelope week gesê dat dié land vlugtelingstatus aan Suid-Afrikaanse boere behoort te gee.

Alan Tudge, minister van burgerskap en multikulturele sake in Australië, het Maandag in ’n onderhoud met Sky News gesê dié land sal heel waarskynlik “vlugteling-visums” aan Suid-Afrikaners aanbied.

Avi Yemini, ’n Australiese aktivis, het dié week ’n petisie met 50 000 handtekeninge aan Peter Dutton, Australiese minister van binnelandse sake, in Brisbane oorhandig waarin gevra word vir “spesiale inname van vervolgde Suid-Afrikaanse boere”. Foto: Darrian Traynor

Tudge is die tweede lid van Australië se koalisieregering wat hom oor dié kwessie uitlaat.

Peter Dutton, minister van binnelandse sake, het vroeër vanjaar gesê dat Suid-Afrikaanse boere hulle as deel van ’n vlugtelingprogram in Australië kan kom vestig. Latere berigte wou dit hê dat Dutton die opmerkings teruggetrek het, maar Dutton self het dit ontken en gesê hy staan by sy opmerkings.

Nou het nog een van sy kollegas hom oor dié saak uitgelaat.

“Ons kyk noukeurig na die situasie in Suid-Afrika,” het Tudge in die onderhoud met Sky News gesê.

“Ek vermoed ons sal wel ’n paar kan invat, maar hulle sal op meriete en die kriteria van ons humanitêre inname oorweeg word. Ons is ’n baie vrygewige land vir dié wat in nood is en ons onderskei nie van watter land mense kom as hulle veroordeling in die gesig staar nie.”

Tudge was ook verlede week deel van ’n forum in Perth waar Suid-Afrikaners ’n pleidooi vir die spesiale inname gemaak het.

Alan Tudge, minister van burgerskap en multikulturele sake in Australië.

Australië se SBS News berig Tudge was ’n eregas by die forum waar Suid-Afrikaners stories gedeel het van geweld teen hul familielede in Suid-Afrika.

Een van die groot vrae sedert Dutton se oorspronklike kommentaar was of die Australiese regering ’n spesiale inname vir vlugtelinge vanuit Suid-Afrika sou toelaat, soortgelyk aan die sowat 12 000 vlugtelinge van Irak en
Sirië wat spesiaal laat kom is weens vrese oor die Islamitiese Staat, of dat Suid-Afrikaners vir ’n gewone humanitêre visum sal moet aansoek doen.

Ian Goodenough en Andrew Hastie, Liberale Party-LP’s in Australië se koalisieregering, ondersteun die idee dat 10 000 vlugtelingvisums aan Suid-Afrikaners beskikbaar gemaak word.

Kabinetsministers soos Julie Bishop, adjunkleier van die Liberale Party en minister van buitelandse sake, glo egter die gewone immigrasieprosedure moet vir Suid-Afrikaners geld.

Avi Yemini, ’n Australiese aktivis van Melbourne van die Australian Liberty Al­liance (ALA), het die week ’n petisie met 50 000 handtekeninge aan Dutton in Brisbane oorhandig waarin gevra word vir ’n “spesiale inname van vervolgde Suid-Afrikaanse boere”. Dieselfde petisie is verlede week aan Bishop se kantoor in Perth oorhandig.

Spanning tussen Suid-Afrika en Australië het in die week toegeneem nadat Australië se departement van buitelandse sake Australiërs wat na Suid-Afrika reis, gewaarsku het om ’n “hoë vlak van waaksaamheid” te handhaaf.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sou met Bishop in gesprek tree oor die amptelike waarskuwing op die regering se webtuiste Smartraveller.gov.au.

Sisulu en Bishop is in Londen vir die leiersberaad van die Statebond.

Die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking het dié week in ’n verklaring gesê dié waarskuwing is misleidend.

Lande soos Brittanje, die VSA, Kanada, België en Ierland waarsku ook hul burgers teen geweld en misdaad in Suid-Afrika.

Meer oor:  Peter Dutton  |  Australië  |  Emigrasie  |  Vlugtelinge  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.