Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Baanbreker’ vir vroue in weermag dood in huis gevind
Monica Moolman Muller Foto: Facebook, South African Military Veterans, Statutory Forces 1912-Now

Een van Suid-Afrika se eerste vroueoffisiere in die weermag is vandeesweek skielik dood.

Monica Moolman Muller (75), wat vroeër as kolonel afgetree het, het Maandagmiddag in haar huis in Centurion gesterf.

Sy het vermoedelik ’n hartaanval gehad, het Marie Bredenkamp (79), haar suster, aan Netwerk24 gesê.

Muller was ná haar aftrede tot met haar dood op kontrak by die weermag betrokke.

Bredenkamp het gesê haar suster het steeds toegewyd haar dienste verleen en word deur talle as ’n baanbreker in opleiding, kleredrag en die bevordering van vroue in die weermag beskou.

Die SA Weermagvereniging het in reaksie op haar dood op Facebook geskryf: “Sy het diep spore vir ons vroue in die weermag getrap. Sy was tot haar dood ook by die Reserwemagraad betrokke. Rus in vrede, kolonel, u gaan voorwaar gemis word, u nalatenskap sal vir altyd bly voortleef.”

Bredenkamp het gesê sy en haar suster is boorlinge van Calvinia, maar nadat hul pa hom by die weermag se staande mag aangesluit het, het hulle verhuis na Gqeberha (Port Elizabeth), waar hulle aan die Hoërskool Pearson gematrikuleer het.

“Ons het die voorreg gehad om ons kinderjare te slyp in ’n wonderlike militêre basis (Forest Hill), wat destyds die Oostelike Provinsie se hoofkwartier van die staande mag was.”

Die weermagbasis se groot swembad het ook daartoe gelei dat hulle kranige swemmers was. “Van haar swemrekords is eers ná 14 jaar by Pearson verbreek,” spog Bredenkamp met haar suster.

Ná matriek het Muller handelsonderwys studeer en by verskeie skole onderrig gegee. Sy het egter rondom 1971 van loopbaan verander toe die SA Vroueleërkollege in George geopen het.

Muller, wat toe een van die eerste vroueoffisiere was, het gou op die rangleer geklim en is later rondgestuur, selfs na Israel, om kers op te steek by ander basisse oor hul opleidingsprosesse vir vroue.

“Sy het altyd met wonderlike stories teruggekom.

“Sy was in ’n stadium tweede in bevel van die Vroueleërkollege.”

Sy is later getroud met ’n wewenaar, Carl Muller, wat drie kinders gehad het. Carl is sowat drie jaar gelede dood.

Muller is Maandagmiddag op haar bed dood aangetref nadat ’n kuiergas hulp ontbied het toe sy nie die deur oopgemaak het nie.

“Dit was ’n geweldige skok toe die oproep om 14:40 deurkom.”

Sy is vir ons die volksmoeder, die een wat opgestaan het vir alles wat reg is en nie omgegaan het met wat verkeerd is nie.

Vir Bredenkamp was haar suster die gom in hul familie.

“Omdat sy eers laat getroud is, was sy my kinders en kleinkinders se peetma. Sy het altyd na al die kinders, soos Carl se kinders, uitgereik en hulle voorkeur gegee.

“Sy is vir ons die volksmoeder, die een wat opgestaan het vir alles wat reg is en nie omgegaan het met wat verkeerd is nie.”

Bredenkamp het gesê die medelye op Facebook benadruk hoeveel mense haar as ’n militêre mentor beskou en dankbaar is vir die wyse waarop sy verskeie deure vir vroue oopgemaak het.

“Ek gaan haar mis, hoe kan ’n mens dan die lewe sonder jou suster indink?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.