Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Baba uit inkopiesak in Centurion gered

’n Groep vriende van Gerardsville in Centurion het ’n pasgebore baba in ’n inkopiesak ontdek toe hulle verlede Saterdagaand ’n geluid gehoor het terwyl hulle groente geoes het.

Baba Oprah in die hospitaal by suster Martha Malautsi. Foto: Facebook

Lucius Fred (37), ’n pa van twee, het sy flitslig uitgehaal en toe sien hy die inkopiesak in die veld naby die lappie groente lê.

Binne-in die bebloede inkopiesak was ’n baba, met die nageboorte en naelstring. Fred het gedink die baba is reeds dood.

Hy het sy werkgewers gebel. Hulle is Allyzander Fourie, ’n skrywer van die sepie Isidingo, en sy lewensmaat Roelien Spruyt, ’n 7de Laan-vervaardiger.

Hulle het dadelik gaan help.

Spruyt sê sy het aangeneem die baba is dood en vir die mans gesê hulle moet haar terugsit in die sak omdat dit ’n misdaadtoneel is. Maar toe hoor sy ’n geluid.

‘Ek wil haar ere-ouma wees. Sy moet wéét sy is baie spesiaal.’

“Ek het die sak oopgemaak, die baba uitgehaal en teen my bors vasgedruk. Omdat dit donker was kon ek nie mooi sien nie.

“Ek het na haar toe ogies en klein vuisie gekyk en aanhoudend gevra sy moet asseblief nie doodgaan nie.”

Hulle het die buurtwag ontbied. ’n Paramedikus het die baba se naelstring geknip.

Ambulanspersoneel van die Kalafong-hospitaal het daar aangekom en vir die baba ’n suurstofmasker opgesit voordat hulle haar hospitaal toe geneem het.

Eers die volgende dag het die skok Spruyt getref. “Ek het aanhoudend begin huil,” sê sy.

Sy het Maandag die baba by die Kalafong-hospitaal gaan besoek.

Lucius Fred en Roelien Spruyt het baba Oprah se lewe gered. Foto: Elizabeth Sejake

Laat vandeesweek het die babadogtertjie 2,5 kg geweeg. Sy is intussen na ’n huis van veiligheid geneem, terwyl daar na haar familie gesoek word.

Spruyt het solank vir haar ’n naam gegee – Oprah. Sy sê sy hoop klein Oprah se verhaal sal mense inspireer soos wat die kletskoningin Oprah Winfrey doen.

“Sy is ’n wonderwerk,” sê Spruyt, wat self nie kinders het nie.

Sy sê ’n mens weet nie wat die ma se omstandighede is nie. “Maar hierdie baba was bedoel om hier te wees,” sê sy.

Drie mense het reeds gesê hulle wil Oprah aanneem en Spruyt sê sy wil vir so lank sy kan deel van die kleinding se lewe bly.

“Ek wil haar ere-ouma wees. Sy moet wéét sy is baie spesiaal. Ek hoop sy kan eendag by die Oprah-skool instap en sê ‘julle moet vir my ’n plekkie gee’.”

Maandagoggend 09:00 gaan Spruyt weer vir Oprah kuier – dié keer by die plek van veiligheid waar sy nou bly.

Meer oor:  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.