Algemeen
Baba van Houtbaai kry kogleêre inplanting

Neave Barrett (drie maande) kort na afloop van ’n operasie waarin sy ’n kogleêre inplanting ontvang het. Sy is die jongste kind in Suid-Afrika én Afrika om dié operasie te ondergaan. Foto: Verskaf

As jy na Neave Barrett (drie maande) kyk, helder haar gesiggie op en lag sy vriendelik vir jou. Op die oog af skort daar niks met dié kleintjie van Houtbaai nie en is die enigste verskil tussen haar en ander babas van haar ouderdom dat sy klaar deurnag slaap.

Neave kon egter tot dusver juis só lekker slaap omdat sy doof is en sy het Maandag die jongste persoon in Suid-Afrika én Afrika geword wat ’n kogleêre inplanting ontvang.

Die operasie van sowat twee uur lank, vir eers net in haar regteroor, was ’n sukses en die inplanting sal oor sowat drie tot vier weke aangeskakel word. Haar tweede oor sal dan op die ouderdom van sewe maande geopereer word.

“Dit was geweldig traumaties en eintlik het ons ’n sin van verlies beleef toe ons hoor sy is doof,” het Mia Barrett (34), Neave se ma, vertel.

“Elke mens het drome vir hul kinders selfs voordat hulle gebore is. Ewe skielik moes ons vrede maak met die feit dat daardie drome dalk nooit sou waar word nie. Dat die operasie ’n sukses was, was die beste nuus wat ons nog gekry het. Ons sal nooit weer die klein dingetjies, soos haar eerste woord, as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Neave is in September in die Vincent Palloti-hospitaal gebore en het ’n roetine-toets vir gehoorprobleme ondergaan. Toe dié toets wys sy het ’n infeksie in albei ore het dr. Derrick Wagenfeld, een van die land se voorste oor-, neus-, en keelspesialiste, verdere toetse gedoen.

Neave moes dadelik geopereer word om te verhoed dat die infeksie verkalk en eindelik onopereerbaar word.

“Wagenfeld was fantasties in elke opsig,” het Mark (42), Neave se pa, gesê. “Hy het baie pro-aktief opgetree en seker gemaak dinge word gedoen, selfs in ’n tyd wat almal met verlof was.”

Die operasie was uiters delikaat, maar die grootste bron van kommer was om Neave op so ’n jong ouderdom vir lank onder narkose te plaas.

“Die hartseerding is dat baie kinders nie vroeg genoeg gediagnoseer word nie, omdat die toets wat Neave dae ná haar geboorte ondergaan het nie by staatshospitale en -klinieke beskikbaar is nie,” het Mia gesê.

Die koste van die inplantings beloop sowat R500 000 en die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n fonds gestig waarin lede van die publiek geld vir die Neave Barrett-projek kan skenk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Volg Netwerk24