Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Baba veg teen Covid-19 en 3 ander virusse

’n Ma van Benoni aan die Oos-Rand het vir ’n oomblik haar geloof in die Here verloor toe haar pasgebore babadogtertjie weens onder meer Covid-19 in ’n baie ernstige toestand in die hospitaal was.

Aurora Wileman kort ná haar geboorte op 8 Mei. Twee weke ná haar geboorte is sy vir die eerste keer in die hospitaal opgeneem.

Vriende, familie en vreemdelinge in die gemeenskap het gebid vir die paar weke oue Aurora Wileman, wat benewens Covid-19 teen drie ander siektes baklei het.

Haar ouers, Kyle Wileman en Angie Wells, het gedink hul jongste kind gaan doodgaan.

“Maar soos almal vir haar begin bid het, het sy sterker en beter geword. My geloof in God het heeltemal vernuwe en ek weet dis alles danksy die gebede en die dokters se toewyding,” sê Wells.

Die dogtertjie is eindelik terug by die huis en sterk goed aan.

Aurora was heeltemal gesond toe sy op 8 Mei weens die gevare van die Covid-19-pandemie by die huis gebore is.

Die nagmerrie het alles begin met die paartjie se tweejarige seun, Blake, se loopneus.

Eindelik het Wells en haar babadogtertjie ook siek geword.

Teen die tyd dat ek by die hospitaal aangekom het, was haar lippe al blou, want haar suurstofvlakke was laag.

Aurora het onder meer nie gedrink nie en was gedehidreer, terwyl sy ook gesukkel het om asem te haal.

Sy was twee weke oud toe sy op 25 Mei in die Netcare Linmed-hospitaal opgeneem is.

Wells moes haar vir die koronavirus laat toets omdat sy saam met haar dogter in die hospitaal gebly het. Die uitslag was positief.

Aurora Wileman toe sy ernstig siek in die hospitaal was.

Haar baba is negatief getoets vir die koronavirus, maar positief vir die respiratoriese sinsitiale virus (RSV), die rhinovirus en die bocavirus.

Aurora het tekens van beterskap getoon en is twee dae later ontslaan.

Intussen is Aurora se pa en haar oudste broer, Perry (17), ook positief vir die virus getoets. Blake en die ander boetie, Russel (7), se uitslae was negatief.

Blake is egter op Maandag 1 Junie in die Linmed-hospitaal opgeneem, nadat sy simptome vererger en sy toestand verswak het. Wileman het saam met sy seun in die hospitaal se pediatriese eenheid gebly.

Met sy opname is Blake positief getoets vir die koronavirus, asook vir RSV, die rhinovirus en die adenovirus.

Intussen het Aurora op Donderdag 3 Junie ’n terugslag gehad en sy is weer in die Linmed-hospitaal opgeneem.

“Ek het vinnig ’n tas gepak en hospitaal toe gejaag. Teen die tyd dat ek by die hospitaal aangekom het, was haar lippe al blou, want haar suurstofvlakke was laag,” sê Wells.

Die hospitaalpersoneel het haar onmiddellik binneaarse voeding en suurstof gegee. Toetse is gedoen en sy is toe ook positief vir die koronavirus getoets.

Wells het saam met Aurora in die hospitaal aangebly en twee dae later, die Saterdag, het sy gesien haar dogter sukkel om asem te kry.

“Dis waar alles net van sleg na slegter begin gaan het. My pediater was baie, baie bekommerd en het twee uur lank by Aurora gebly.”

Volgens Wells het Aurora se liggaamstemperatuur ook drasties gedaal.

Ons was so opgewonde om haar te gaan haal. Toe sy by die huis kom, het ons van blydskap en verligting gehuil.

Aurora is per ambulans na die Life The Glynnwood-hospitaal in Benoni oorgeplaas en in die neonatale waakeenheid aan ’n ventilator gekoppel.

“Sy was baie siek, selfs te siek om te drink. Wanneer ek haar geborsvoed het, het die melk in haar longe beland omdat sy so vinnig asemgehaal het.”

Omdat Aurora en haar ouers positief vir die koronavirus getoets is, mag hulle nie by haar in die hospitaal gebly het nie.

“Ons moes ons dogter alleen los in die waakeenheid om te isoleer. Nie eens Ouma of Oupa mag vir Aurora in die hospitaal gaan kuier het nie,” sê Wells.

“Dit het regtig my hart gebreek, want ek het haar op al die masjiene met die pype gesien. Die dokter het vir my gesê dis nie Covid wat haar so siek maak nie, maar die RSV.”

Die Saterdag het ek my geloof in God verloor, want ek en Kyle het regtig gedink ons dogter gaan doodgaan. Dit was ’n nagmerrie – nie net vir ons nie, maar vir ons ander kinders ook.

Volgens dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, vaar babas met Covid-19 in die algemeen baie goed, maar hulle moet steeds fyn dopgehou word.

Sy sê dit hang egter van ’n paar faktore af, soos die baba se omstandighede en of die baba ondergewig is.

Aurora was vir ’n week in die waakeenheid en is eindelik op Saterdag 12 Junie ontslaan.

“Ons was so opgewonde om haar te gaan haal. Toe sy by die huis kom, het ons van blydskap en verligting gehuil,” sê die ma.

“Ons moes steeds voortgaan om haar elke vier uur te nebulise. Ek moes haar ook elke drie uur borsvoed omdat sy baie gewig verloor het. Ons is ’n bietjie bekommerd oor haar gewig, so ons hou dit fyn dop. Met tye is sy nog kort van asem weens die RSV, maar andersins herstel sy baie goed.”

Aurora is nou ses weke oud en weeg 3,3 kg.

Wells sê dis te danke aan al die gebede dat hul dogter sulke goeie vordering toon.

“Die Saterdag het ek my geloof in God verloor, want ek en Kyle het regtig gedink ons dogter gaan doodgaan. Dit was ’n nagmerrie – nie net vir ons nie, maar vir ons ander kinders ook.”

Wells en Wileman waarsku nou ander ouers teen die gevare van RSV – een van die grootste oorsake van respiratoriese siektes by kinders.

Meer oor:  Benoni  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.