Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Bachelor’ kla oor leuens, teistering

Werklikheidsprogramme soos The Bachelor sorg vir vonke op én van die kassie, want terwyl kykers glo hulle sien die hele prentjie, is dit nie altyd die geval nie.

Marisia van Wyk en Marc Buckner.

Marc Buckner en Marisia van Wyk, die paartjie van The Bachelor SA se tweede seisoen, het aanhangers onkant betrap toe hulle in ’n Instagram-video bewerings van “manipulasie en leuens” in die reeks gemaak het.

Dit kom nadat Buckner ook by die DA aangeklop het met klagtes dat Phumzile van Damme, voormalige DA-LP en halfsuster van Qiniso van Damme, hom aanlyn teister. Qiniso was te sien in die seisoen waarin Buckner verskyn het, maar is huis toe gestuur.

Daarna was sy die ster in The Bachelorette SA, wat onlangs geëindig het.

Buckner sê hy is die slagoffer van “kuberafknouery en -teistering” deur Phumzile nadat hy onder meer Qiniso se kleredrag as “vreeslik kaal” beskryf het.

Phumzile het hom in ’n reeks twiets getakel en gesê hy moet haar suster uitlos. Die DA meen dis ’n persoonlike saak en wil nie betrokke nie.

'Ek wonder wel of dit eg was.’

Op Instagram het Buckner en Van Wyk aangevoer die produksiespan het hulle voorgesê wat om te sê, wie om te kies en selfs wie om te soen.

Buckner, ’n belegger van Seepunt in Kaapstad, was die ster van die tweede seisoen. Hy voer aan hy was onder druk om sekere vroue te laat bly terwyl hy hulle eintlik huis toe wou stuur.

Dit is nie duidelik na wie hy verwys nie.

Rapport het die paartjie die afgelope week om kommentaar genader terwyl hulle in Zimbabwe was, maar hulle wou nie uitwei oor hul aantygings op Instagram nie.

“Ek kan nou net oor die hede praat,” het Van Wyk, ’n gehoorterapeut, gesê. “Dit is so lank gelede. Niemand lei ons die een of ander rigting in nie. As mense dus in ons lewens wil inskakel, moet hulle ons op ons Facebook of Instagram volg. Hulle kan sien hoe ons as ’n paartjie gegroei het en kyk waar ons is.”

Sy en Buckner reis tans elders in Afrika.

Rapport het die ander topvier-deelnemers genader oor hul ervarings van die reeks. Slegs Gillian Seetso het gereageer.

“Ek wil niks buite rekening laat nie, maar ek voel dat daar ’n regte band was. Maar hoe leer jy iemand ken in drie dae?”

Seetso het ook gesê dit was vir haar ’n goeie ervaring, maar sy wonder soms of Buckner werklik bedoel het om haar as een van sy topvier-kandidate te kies en of hy voorgesê is.

“In die eerste seisoen van The Bachelor met Lee (Thompson) was daar nie een swart meisie in die topvier nie, maar Nontombi het die topvyf bereik. So, ja, ek wonder wel of dit van sy kant af eg was dat ek as ’n swart meisie in die topvier was.”

M-Net, wat The Bachelor uitsaai, het in ’n mediaverklaring die aantygings van manipulasie ontken. “Al ons programme word professioneel en volgens die hoogste etiese standaarde bestuur. Ons verseker altyd dat daar integriteit in al ons prosesse is en dat die uitkomste van ons programme outentiek en ’n ware weerspieëling is van hoe die rolverdeling aan die program deelgeneem het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.