Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Baie, baie lang 10 minute’ saam met slang in motor
Hier het die Kaapse kobra weggekruip nadat vanaf die paneelbord tot by die noodwiel gevlug het.
Die foto wat Linden Booth van André du Preez van Silverfox Snake Rescues en die Kaapse kobra geneem het as “bewys” oor hoekom hy laat vir sy vergadering in die Kaap sou wees. Foto: Linden Booth

Linden Booth het sy motor se deur oopgemaak en vir byna ’n uur langs die pad gesit, geduldig wagtende dat ’n Kaapse kobra vrywillig uit sy Toyota Verso sal seil.

Toe die niebetalende passasier nie sy samewerking wil gee nie, was daar net een opsie – ry die tien minute tot by Worcester waar iemand dalk kan help om die verstekeling te vang.

“Dit was ’n baie, baie lang tien minute se rit,” erken Booth.

Hy was Maandag reeds vyf uur aan die ry vanaf Baviaanskloof in die Oos-Kaap na Kaapstad toe hy iets uit die hoek van sy oog aan die passasierskant sien: ’n gelerige “groterige” slangkop wat by die paneelbord “uitpop”.

“Dankie tog dit was nie aan die bestuurderskant nie . . . Toe ek en die slang mekaar gewaar, het hy sy kop teruggetrek. Ek moes egter nog my hand naby die paneelbord bring om die ratte te verwissel sodat ek van die pad kon aftrek sonder om die motor te rol,” lag Booth.

Hy het om sy motor geloop en die passasiersdeur oopgemaak.

Toe ek en die slang mekaar gewaar, het hy sy kop teruggetrek.
Linden Booth

“Toe het ek langs die pad gesit en hoop die slang sal vrywillig uitseil.”

Ná byna ’n uur het slang se kind egter nog nie beweeg nie. Booth het versigtig in die motor geloer om te sien waar die slang hom bevind, maar hy kon niks sien nie.

Hy het onthou van ’n slangpark in Worcester, wat so 10 minute se ry ver was.

Omdat hy in Kaapstad sou oorslaap, het hy ’n sak met klere in die motor gehad.

“Ek het soveel as moontlik van die klere van my knieë af tot by my enkels gedraai dat daar darem ’n ekstra lagie beskerming is, sou die slang wou byt, want ons het maar albei ’n effense skrik gekry,” sê hy.

Ek moes bly glo dat beide van ons geen behoefte het om mekaar van nader te leer ken nie.

Toe durf hy die pad aan.

“Dit was ’n senutergende rit tot by Worcester. Ek het kort-kort probeer kyk waar die slang is. Ek moes bly glo dat beide van ons geen behoefte het om mekaar van nader te leer ken nie.”

Die slangpark bestaan egter nie meer by die Kleinplasie-buitelugmuseum waarheen hy gemik het nie.

Die mense daar ken egter vir André du Preez van Silverfox Snake Rescues en het hom gebel.

“Ek is vertel daar het ’n motor met ’n groot gejaag aangekom en dat die man vanaf Baviaanskloof met ’n slang in sy motor gery het,” sê Du Preez.

Hy het, met die versigtige hulp van Booth, onder die sitplekke geloer, en “alles” uitmekaar gehaal.

Ná byna 45 minute se gesoek en die voertuig in boude en blaaie, het Du Preez deur die moergaatjies van die spaarwiel agterin geloer.

Twee sku ogies het terug geloer.

Die jong Kaapse kobra nadat André du Preez van Silverfox Snake Rescues hom uit Linden Booth se motor gered het.

Hy het ’n gedehidreerde 1,3 m lange slanglyf daar uitgehaal.

Booth sê hulle woon in ’n deel van die Baviaanskloof-reservaat waar hulle bakkies of viertrekvoertuie gebruik.

Die motor staan vir weke daar voordat dit vir die teerpad uitgetrek word.

Du Preez kon aan die slang se fisieke toestand sien dat die reptiel al langer as tien dae in die motor vasgekeer moes wees.

Hy het water aangebied. “Die slang het vyf minute aaneen gedrink. Hy het ook drie groot (dooie) muise verorber,” sê die slangvanger.

Booth het voor sy vertrek ’n foto van Du Preez en sy passasier geneem as verduideliking oor hoekom hy laat vir sy vergadering in Kaapstad sou wees.

Hy het ook ’n mooi (tong-in-die-kies) briefie vir “natuurbewaring se mense” by Baviaanskloof gestuur: “Ek is jammer dat ek een van julle slange sonder ’n permit verwyder het . . .”

Meer oor:  Baviaanskloof  |  Slang In Motor  |  N  |  Slang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.