Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Baie in skoonheidsbedryf gaan deure sluit
Haarkappers kry swaar omdat hulle nie ’n inkomste kan verdien nie. Foto: Theana Breugem

As die regering nie vinnig die inperkingmaatreëls verslap nie, gaan baie mense in die skoonheidsbedryf in die land hul werk verloor.

Mense in dié bedryf werk gewoonlik vir hulself, en dit is dikwels ’n geval van geen werk, geen betaling.

Janine Bredenkamp (40), ’n haarkapper van Pretoria wat vir haarself werk, sê haar onderneming word deur bankrotskap in die gesig gestaar.

“Ek is afhanklik van my klante. Geen klante beteken ek het geen inkomste nie, maar ek het steeds rekeninge om te betaal,” sê Bredenkamp.

Sy sê sy het op 24 Maart laas ’n inkomste gehad.

Van haar getroue klante ondersteun haar deur koopbewyse te koop, of deur net ’n skenking te maak sodat sy darem nog iets het om van te leef.

“Maar nie al my klante kan dit bekostig nie,” sê sy.

Ons kry baie swaar. Party dae weet ons nie waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie.

Yolande Visser (47), ook van Pretoria, is ’n haarkapper en grimeerkunstenaar wat reeds al haar spaargeld moes gebruik sedert die inperking van krag geword het.

“Ons kry baie swaar. Party dae weet ons nie waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie,” sê sy.

Sy hoop en bid dat die regering binnekort die regulasies sal verslap dat sy weer ’n inkomste kan verdien.

Dié wat uit desperaatheid dit wel waag om in weerwil van die regulasies te werk, kan met tot R20 000 beboet word, en daar kan in sommige gevalle ook op hul toerusting beslag gelê word.

Visser en Bredenkamp sê dit is iets wat hulle nie sal waag nie, maar hulle kan verstaan hoekom mense kanse vat.

Soos sake nou staan is dienste vir persoonlike sorg van die laastes wat weer oopgestel sal word.

“Daar is nie hulp vir mense in ons bedryf nie, die meeste van ons bedryf ’n eenmansaak. Jy kan jou werker by die Werkloosheidsversekeringsfonds registreer, maar nie jouself nie,” sê Bredenkamp.

Die nasionale bedingingsraad vir die haarkapper-, kosmetiek-, skoonheids- en velsorgbedryf het by navraag ook gesê die toekoms vir hierdie bedryf in die land lyk donker.

“Soos sake nou staan is dienste vir persoonlike sorg van die laastes wat weer oopgestel sal word. Die verwagting is dat verskeie werkgewers in die bedryf hierdeur gedwing sal word om hul ondernemings te sluit, wat beteken nog meer mense sal werkloos wees,” het die bedingingsraad Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Die kwessie word bespreek en die raad het onderneem om binnekort meer daaroor te sê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Haarkappers  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.