Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Baie kerke se deure bly nog toe

Al is geloofsgroepe dankbaar dat die regering genoeg vertroue in hulle stel om hul eie besluite te neem, gaan baie plekke van aanbidding nog nie dié week heropen nie.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, sê verskeie gemeentes het reeds aangedui hulle gaan nog nie dienste in die kerk hou nie. Sommige sê weer hulle het nie ’n ander keuse nie.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het aangekondig dat geen sinagoges sal heropen nie en die Moslem Juridiese Raad van Suid-Afrika (MJC) het ’n beroep op moskees gedoen om hul deure nog ’n maand lank toe te hou. Ook die Zion Christian Church (ZCC) sê dis nog te vroeg om weer byeen te kom.

Janse van Rensburg sê: “Daar is uiteenlopende reaksie van predikante hieroor. Een dominee sê dit sal totaal onverantwoordelik wees om kerkdienste te hou omdat sy gemeente net uit bejaardes bestaan, terwyl ’n ander dominee sê sy gemeentelede gaan doodgaan aan depressie as daar nié eredienste gehou nie.

“Ons gaan nie vir ons gemeentes voorskryf wat om te doen nie. Ons glo dat gemeentes hul eie plaaslike konteks in ag moet neem en op grond daarvan hul eie diskresie gebruik wanneer hulle hieroor besluit.”

Verskeie opsies vir kerke beskikbaar.

Die NG Kerk het dit Vrydag in ’n omsendskrywe aan gemeentes duidelik gemaak daar word nie van hulle verwag om kerklike byeenkomste en ander geleenthede te hou nie.

Hiervolgens is daar verskeie opsies vir kerke beskikbaar, soos om geen aanbidding in die kerkgebou te hou nie, eredienste met ’n orrelis en ’n begeleidingsgroep op te neem en oor die internet te stroom of kerkdienste met minder as 50 mense te hou.

Janse van Rensburg sê gemeentes kan nou ten minste ordentlike opnames van hul eredienste in hul kerke maak eerder as wat dit in iemand se huis gedoen word.

Die kerk raai mense met onderliggende siektes en diegene ouer as 60 aan om “liefs nie eredienste by te woon nie”.

Gemeentes word ook gewaarsku sommige gelowiges kan dalk roekeloos wees “omdat hulle voel God sal hulle teen die virus bewaar”.

Gemeentes is ook gevra om nie nagmaal of die doop te be­dien nie en ook nie te sing nie “omdat infeksie ’n groter moontlikheid is as daar gesing word”.

Die insameling van dankoffers moet geskied wanneer mense uit die kerkgebou beweeg en fisieke afstand gehou word, lui die omsendskrywe.

Begrafnisse en huweliksbevestigings mag plaasvind, mits dit strook met die regulasies, wat bepaal hoogstens 50 mense mag teenwoordig wees.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika skryf volgens dr. Wouter van Wyk, sekretaris, nie vir gemeentes voor oor wat hulle moet doen nie.

“Ons vra wel dat hulle verantwoordelike besluite hieroor moet neem wetende dat party mense bang is en niks sal doen om hulself bloot te stel nie en ander mense weer afwysend is oor die virus en sosiale afstand.”

Hy sê gemeentes se profiel moet veral in ag geneem word wanneer besluite geneem word. Bejaardes en mense met onderliggende siektetoestande moet afgeraai word om eredienste by te woon.

“Dit was opvallend dat baie mense reeds weggebly het in die week voor die inperkings in Maart in werking getree het. Ek dink baie mense is nie bereid om enige kanse te waag nie en daarom verwag ek nie dat daar ’n toestroming gaan wees wanneer kerke weer hul deure open nie.”

In ’n landwye en verteenwoordigende peiling wat Victory Research in Mei vir Rapport en City Press gedoen het, het 44% van die respondente aangedui dis baie onwaarskynlik dat hulle nou kerk toe sal gaan.

Volgens 10% is dit nie baie waarskynlik nie, 11% sal waarskynlik gaan en 34% sal baie waarskynlik gaan.

Vir swart respondente is dit onderskeidelik 36%, 10%, 8% en 46%.

Vir minderheidsgroepe is dit onderskeidelik 25%, 16%, 19% en 40%.

Meer oor:  Nelis Janse Van Rensburg  |  Covid-19  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.