Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Baie vrae’ ná Voëlklip-tragedie

Die familie van Hugo Scheepers (2), wie se lyk in die see by Voëlklip naby Heroldsbaai gekry is nadat hy, sy ma en sy sussie verdwyn het en hul motor op die rotse gevind is, het baie vrae.

Kapt. Malcolm Pojie wys Vrydag by Voëlklip waar die motorwrak die vorige aand ná 21:00 na bo gehys is. Foto: Jackie Kruger

Etienne Scheepers, wie se vrou, Heidi (35), en hul twee kinders, Hugo (2) en Cuzette (6), Dinsdag vermis geraak het nadat hulle almal glo laatmiddag op die strand by Heroldsbaai was, gaan deur ’n moeilike tyd, het Netwerk24 Vrydag verneem.

Heidi en die kinders is Dinsdag in ’n Volkswagen Caravelle by die strand weg en het nooit by die huis opgedaag nie. Hugo se lyk is Donderdag vroeër in die see by Voëlklip gekry. Hy was nog in sy karstoeltjie en het in ’n kloof in die see gedryf naby die wrak van die Caravalle, wat met laagwater op die rotse sigbaar was. ’n Lykskouing sou Vrydag plaasvind.

Dit blyk dat die voertuig tussen 100 m en 120 m ver by die afgrond afgestort het, volgens die polisie.

Die George Herald berig ’n gedenkmuur sal Vrydagaand om 19:00 by Hugo se kleuterskool, die Little Farm Preschool, in Heatherpark, George, bekend gestel word.

Volgens ’n sake-eienaar wat Etienne ken, is dit ’n hartseer en moeilike tyd vir hom en moet hy tyd gegee word om tot verhaal te kom. 

Huisgenoot het Vrydag berig Etienne het ’n paar uur nadat Hugo se lyk gevind is, gesê baie aspekte is onduidelik en dat sy vrou en dogter nog nie gevind is nie. Hy wou blykbaar niks verder aan die media sê nie.

Die Volkswagen Caravelle het vermoedelik hier oor dié afgrond na benede gestort. ’n Omstander kyk Vrydag oor die afgrond na die see. Foto: Jackie Kruger

Nog ’n vriend het aan Netwerk24 laat blyk dit is onduidelik wat gebeur het en dat die Heidi wat hy ken, baie lief vir haar kinders was en nie ’n vlieg sou seermaak nie.

By navraag het dit geblyk geen familielede was Vrydag by die Heroldsbaai Kafee (waarvan Etienne die eienaar is) nie.

Dele van ’n motor is Woensdag by die Voëlklip-gebied, ’n uitkyk-en-hengelplek naby Heroldsbaai, gevind. Daar is vasgestel dit is die Caravelle waarvan die onderstel met laagwater in die see op die rotse sigbaar was.

Polisiebeamptes en die ER24-nooddiens Vrydag by Voëlklip. Foto: Jackie Kruger
Hugo Scheepers. Foto: Verskaf
’n Rubberboot is Vrydag in die verte in die see by Voëlklip sigbaar. In die voorgrond is ’n kruis wat aangebring is nadat MarNic Els (20), Luandro Jansen (21) en Werner Finger (20) op 15 November 2015 in die vroeë oggendure (by Voëlklip) dood is toe die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het, oor die afgrond in die see gestort het. Foto: Jackie Kruger

Die motorwrak, waarvan blykbaar net die wiele en onderstel oor was, is Donderdag ná 21:00 uit die water opgehys. Nie Heidi of Cuzette is gevind nie.

Die grondpad na Voëlklip is moeilik en die terrein onherbergsaam, het dit Vrydag met ’n besoek van Netwerk24 geblyk.

Polisiebeamptes, polisieduikers en die ER24-nooddienste was op die toneel, asook vrywilligers wat die gebied gefynkam het. Talle inhamme en kleiner grotte kom in die see daar voor en die see is dikwels onstuimig.

Reën word vir die naweek voorspel en kan ook die soektog belemmer.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê die kusgebied van Mosselbaai tot Knysna word nou gefynkam.

Dit is onbekend presies hoe en waar die Caravelle oor die afgrond gestort het, maar volgens Pojie is die wrak opgetrek in die gebied waar MarNic Els (20), Luandro Jansen (21) en Werner Finger (20) op 15 November 2015 in die vroeë oggendure (by Voëlklip) dood is toe die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het oor ’n afgrond in die see gestort het.

Els en Jansen se lyke is gevind, maar Finger s’n nooit nie.

Teen Vrydagoggend was die pad na Voëlklip oop en het talle nuuskieriges opgedaag. Pojie sê geen misdaad word vermoed nie. Alle moontlikhede word ondersoek.

Meer oor:  Heidi Scheepers  |  Etienne Scheepers  |  Voëlklip  |  Heroldsbaai  |  Vermiste Ma  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.