Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bank se fooie is skielik 45% meer!

’n Twis tussen die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en die bank wat die uitbetaling van miljoene toelaes fasiliteer, kan in die hof draai nadat die bank sy dienstegelde eensydig met 45% verhoog het.

Mark Barnes, uitvoerende hoof van die Poskantoor.

Grindrod Bank skop egter vas oor die tarief van R10 wat hy sedert 1 April per uitbetaling op ou Sassa-kaarte hef. Dit was voorheen R6,91.

Abraham Mahlangu, waarnemende uitvoerende hoof van Sassa, het alarm gemaak oor die nuwe heffings in die jongste verslag wat hy moes lewer aan die konstitusionele hof oor Sassa se vordering met die oorskakeling van Cash Paymaster Services (CPS) as diensverskaffer na die Poskantoor teen 30 September.

CPS is ’n filiaal van die tegnologiereus Net1 UEPS Technologies.

Die hof het Sassa in Maart ’n grasietydperk verleen om die kontrak met CPS vir ses maande te verleng.

Toe Sassa bewus raak van Grindrod se nuwe tariewe het Mahlangu dadelik aan Grindrod geskryf om terug te keer na die ooreenkoms en tariefstruktuur wat op 15 Maart 2018 onderteken is.

Mahlangu sê die kwessie is aan Sassa se regsverteenwoordigers oorhandig.

‘Ons het toe skielik ’n baie groter uitdaging gehad.’

Luidens die verslag het Grindrod in April 5,3 miljoen toelaes oorbetaal. As deel van die uitfaseringsproses het dié syfer in Mei tot 4,2 miljoen gedaal.

Die verhoging van Grind­rod se diensgeld het die bank ’n bedrag van meer as R53 miljoen in April in die sak gebring, pleks van R37 miljoen.

Grindrod het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Die bank het vroeër aan Money­web gesê hy het geen ander keuse gehad as om tariewe te verhoog nie en dat hy weens die vertragings in die oorskakeling na die Poskantoor nie meer ’n geldige kontrak met Sassa het nie.

Herman Kotzé, uitvoerende hoof van Net1, sê Sassa was te alle tye bewus dat die ontvangers maandelikse koste moes betaal. “R10 (R8,70 plus BTW) is in ooreenstemming met die dienste wat aangebied word,” sê Kotzé.

Intussen sê Mark Barnes, uitvoerende hoof van die Poskantoor, die Posbank sal teen September as ’n operasionele bank binne die poskantoor in bedryf wees en sal gereed wees om alle maatskaplike toelaes te betaal.

Die jongste probleme met uitbetalings van toelaes spruit uit die skielike hoë volume oorskakelings van die ou Grindrod-Sassa-kaart na die nuwe Sassa-Poskantoor-kaart, wat die stelsel laat in duie stort het.

Sommige gebruikers kon Sondag, die eerste dag van die maand, nie hul geld trek nie.

Teen Donderdag was die probleme klaarblyklik uitgestryk en is 60% van die 799 000 ontvangers wat geraak word se betalings verwerk, sê Bongani Diako, ’n woordvoerder by die Poskantoor.

Die arbeidshof het Sassa intussen sewe dae gegee om salarisonderhandelinge met die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) te begin en aan die hof te rapporteer nadat sowat 100 Sassa-werknemers begin staak het.

Die Poskantoor sou aanvanklik net die elektroniese betalings oorneem, maar die mandaat is in Mei verander om ook die kontantbetalings te behartig.

“Ons het toe skielik ’n baie groter uitdaging gehad met ’n beperkte tydsraamwerk na September,” sê Barnes.

Volgens hom het die Poskantoor sowat 1 800 takke en sal 862 takke teen die einde van Augustus gemoderniseer word om dienslewering te bespoedig.

Meer oor:  Mark Barnes  |  Abraham Mahlangu  |  Grindrod Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.