Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ernst kap ‘Ace Magashules van die NG kerk’

‘n Vroeëre weergawe van hierdie berig het gelui dat dr. Johann Ernst vir dr. André Bartlett as een van die “Ace Magashules” van die NG Kerk beskou. In briewewisseling met Rapport nadat die berig verskyn het, het Ernst ons die versekering gegee dat hy nie Bartlett as sodanig ag nie. Ernst staan steeds by sy stelling dat Rapport se kerksakeverslaggewer deel is van ‘n groep ‘Magashules’ wat probeer om sy reputasie skade te berokken.

Dr. Johann Ernst, voormalige aktuarius van die algemene sinode van die NG Kerk, sê daar is ‘n groep “Ace Magashules” van die kerk wat onwaarhede verkondig met die doel om sy reputasie te beskadig.

Dr. Johann Ernst

Ernst, ’n afgetrede predikant van Centurion, beskuldig ook die Hoëveldse sinode van vertrouensbreuk as hulle sou bevestig dat hy geappelleer het teen ’n tugliggaam se bevinding dat hy eers sy Bybel behoort te lees voordat hy klagte teen ’n mede-predikant indien.

Ernst sê hy gaan “optree” teen enigiemand wat bevestig het dat hy geappelleer het teen die tugliggaam se bevinding.

“Dit is nie hoe dit werk nie. Dit is ’n kerklike saak – dit is streng vertroulik, dit is sub judice en die proses is sonder benadeling van my regte.

“As dit (die bevestiging) vals is, sal dit my goeie regsgronde gee om op te tree.”

Ernst het vir dr. André Bartlett, ’n predikant wat hom sterk beywer vir die posisie van gays in die kerk, in vyf klagte daarvan beskuldig dat hy die negende gebod (“jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie”) oortree het.

“Julle is almal ’n groep buddies ?.?.?. Wat gee julle om vir die waarheid? Broei mekaar maar warm tot die dag dat jy eendag self gaan rekenskap gee oor elke woord wat uit jou mond uitvloei en by jou pen uitkom.”

Ernst het die klagte ingedien na aanleiding van ’n berig wat op 23 September 2018 in Rapport verskyn het.

Daarin lewer Bartlett kommentaar oor dr. Chris van Wyk, voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse sinode en lid van die algemene sinode se moderamen, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie.

Van Wyk het ’n storm ontketen toe hy op Kerkbode se Facebook-blad geskryf het diegene wat glo seksuele oriëntasie is ’n gawe van God, sal pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – op ’n soortgelyke manier moet aanvaar.

Die tugliggaam wat Bartlett onskuldig bevind het op vier van die vyf klagte, het vir Ernst die kop gewas deur hom daarop te wys dat hy ook moet ag slaan op wat die Bybel sê in Romeine 12:17 – “moenie kwaad met kwaad vergeld nie . . .” – en Efesiërs 4:32 – “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het”.

Toe Rapport Ernst in Junie vir kommentaar vra oor dié vermaning, het hy gesê die teregwysings is belaglik, maar hy gaan dit daar laat.

Hy het wel gevoel die ondersoekliggaam het buite sy bevoegdheid gehandel.

“Die saak het sy doel gedien dat André en Chris moet versoen. Hoekom sal ek nou appelleer?” het hy gesê, maar bygevoeg: “Maar kom ek sê vir jou as die storie Sondag (in Rapport) nadelig is vir my, gaan ek appelleer. Ek sal dan appelleer oor die inhoud van die verslag, want dit is onwaar. Hulle sal dit dan moet gaan regstel.”

Toe Rapport hom die afgelope Vrydag nader om kommentaar, het hy eers gesê hy gaan nie erken of ontken dat hy geappelleer het nie.

Hy het later gesê Rapport se berig is nie die enigste gronde vir appèl nie.

“Jy appelleer tog op grond van kerkregtelike gronde.”

Ernst het gekla dat Rapport sy bynaam Tokkie “onregmatig” in sy vorige berig gebruik het.

“Tokkie is ’n bynaam wat ek in die koshuis gekry het. Dit is persoonlik.”

Ernst wou by Rapport se verslaggewer weet of hy getroud is en of hy ’n lidmaat is van die NG Kerk.

“As jy nie ’n lidmaat is van die kerk nie, het jy geen rede om met my oor kerksake te praat nie. Jy sal dit nie verstaan nie.”

Hy het Rapport se verslaggewer daarvan beskuldig dat hy saam met Bartlett “deel is van ’n groep buddies in die NG Kerk”.

“Julle is almal ’n groep buddies. Bly julle maar buddies sodat die Ace Magashules van die NG Kerk maar bymekaar kan bly. Wat gee julle om vir die waarheid? Broei mekaar maar warm tot die dag dat jy eendag self gaan rekenskap gee oor elke woord wat uit jou mond uitvloei en by jou pen uitkom. Mag dit vir jou ’n genadige dag wees.”

Ernst sê hy word voorgehou as iemand wat teen die gay-saak is.

“Ek is glad nie teen die gay-saak nie. My beste vriende is gay. Ek het geen persoonlike aksie teen enige gay mens nie.”

Ernst sê hy het reeds groot skade gely weens die publisiteit in die media oor sy saak teen Bartlett.

“Ek is as ’n vark uitgekryt. Een ou se woorde aan my is ‘jy is die grootste f*kk*n leuenaar in hierdie land. Ek sal jou kom bliksem’.

“Nog iemand het vir my gesê ek is die grootste seksuele pervert en ek moes selfs hoor ek is soos Pontius Pilatus. Dit is die tipe skade wat julle aanrig.”

Meer oor:  Chris Van Wyk  |  André Bartlett  |  Homofobie  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.