Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Batchelor ‘wou tuinier beskerm’ toe skote klap

Marc Batchelor se eerste instink was om sy tuinier te beskerm toe hy Maandagaand in ’n skietery op hom gesterf het.

Die koeëlgate in die motorruit van Marc Batchelor se motor wat Maandag naby sy huis in Olivedale, Johannesburg, doodgeskiet is.

Die oud-sokkerspeler is kort na 18:00 naby sy huis in Market-straat in Olivedale, Johannesburg, in sy motor doodgeskiet. Sy broer, Warren Batchelor, het Dinsdag gesê Batchelor se tuinier was saam met hom in die motor toe ’n aanvaller aan die bestuurderskant op die voertuig losgebrand het.

“Sy laaste oomblikke is die een manier waarop ek my broer se lewe kan opsom. Hy het sy tuinier by hom gehad vir wie hy baie omgegee het, en sy hond. Die hond was op die agtersitplek toe die motorfiets langs die motor stilgehou het. Marc se eerste reaksie toe die skote begin klap was om vir sy tuinier te sê om skuiling te soek. Die tuinier was sy eerste bekommernis,” sê Warren.

Die tuinier het oorleef. Die hond is gewond en word behandel.

Trish Taylor, die ma van ’n oudmeisie van Oscar Pistorius, het ook net lof vir die soort mens wat Batchelor was. Hy was destyds ’n getuie in die Oscar Pistorius-moordverhoor.

“Marc was gedurende die Oscar Pistorius-moordverhoor net goed vir my en my dogters. Hy het ons baie ondersteun,” sê Taylor. Sy is die ma van Samantha Taylor, wat in 2014 in die hof oor die voormalige paralimpiese atleet moes getuig. Samantha, met wie Pistorius in 2011 en 2012 uitgegaan het, is as een van die karaktergetuies na die getuiebank geroep.

“My medelye gaan uit na Batchelor se gesin en vriende,” sê Trish.

Batchelor se tuinier was saam met hom in die motor toe ’n aanvaller aan die bestuurderskant op die voertuig losgebrand het.

Die polisie het intussen bevestig dat twee mans gesoek word in verband met die skietvoorval.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê twee aanvallers op ’n motorfiets het omstreeks 18:00 die aand langs Batchelor se motor stilgehou en verskeie skote deur die venster geskiet.

Hy sê ’n handwapen is in die aanval gebruik, en die motief vir die aanval is nog onbekend. Dlamini sê dit is te vroeg om te sê of dit wel ’n sluipmoordaanval was.

Mike Bolhuis, private ondersoeker, sê die gebruik van motorfietse is “die doeltreffendste manier om ’n sluipmoord uit te voer”.

“Motorfietse is meer beweeglik as ’n motor en dit word ook moeiliker uitgeken as die nommerplate en kentekens verwyder word. In die onderwêreld is dit bekend as ’n ‘in and out’. Dit is wanneer ’n motorfietsryer met ’n persoon agterop langs die slagoffer se motor stop en deur die venster op hom losbrand,” sê Bolhuis.

Volgens Bolhuis dateer hierdie tipe sluipmoorde plaaslik uit die jare negentig toe misdaadsindikate in Pretoria en Johannesburg in ’n dwelmoorlog gewikkel was. “Batchelor het vriende in die onderwêreld gehad en daar is altyd opponerende groepe wat die mes in het vir mekaar. Ek vermoed dat die moord op Batchelor skommelinge gaan veroorsaak en dat sy dood gewreek sal word. Die koeëlgate in sy motorruit is naby mekaar gesentreer wat beteken dat die huurmoordenaars presies geweet het wat om te doen. Hulle het sy bewegings fyn dopgehou, hom ingewag en toe doodgeskiet,” meen Bolhuis.

Meer oor:  Marc Batchelor  |  Johannesburg  |  Skietvoorval  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.