Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beampte sterf ná skoot deur kollega in motor
Wyle Damian Coert.Foto: Facebook

Die 32-jarige wetstoepassingsbeampte van die Overstrand-distriksmunisipaliteit wat Donderdag in ’n skietvoorval deur ’n kollega gewond is terwyl hy aan diens was, is Saterdagoggend vroeg dood.

Damian Coert van Hermanus was saam met kollegas op pad om patrollie te doen toe een van sy kollegas se vuurwapen in die voertuig afgaan.

Coert is in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal opgeneem. Luidens die Overstrand-distriksmunisipaliteit is Coert Saterdagoggend dood nadat die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, reeds Vrydagmiddag afgeskakel is.

Die munisipaliteit betuig op hul Facebook-blad hul medelye teenoor Coert se familie. Volgens dié inskrywing gaan Coert onthou word vir sy skaam glimlag en sy goeie gees.

“Ons gedagtes en ons gebede is met sy pa, David, sy ma, Esmeralda en die Coerts se familie en vriende gedurende die moeilike tyd,” lui die inskrywing.

“Vaarwel ons vriend en kollega. Mag jou pragtige siel in vrede rus.”

Coert se tante, Bronwyn April, het op haar Facebook-blad gesê dit is moeilik om iemand te verloor vir wie jy lief is, en om uiteindelik totsiens te moet sê.

Sy verwys na Coert as haar “hartjiekind” en sê dit is vir haar moeilik om alles te verwerk.

Coert se kollega het ná die skietvoorval, wat deur die munisipaliteit as ’n fratsongeluk beskryf is, op aanklag van poging tot moord in die hof verskyn.

Coenie Groenewald, munisipale bestuurder, het vroeër gesê die munisipaliteit se ondersoek na die voorval duur voort, maar die aanvanklike ondersoek dui daarop dat die voorval ’n ongeluk was.

Die polisie het nie meer besonderhede oor die kollega se hofverskyning of die beampte se identiteit bekend gemaak nie.

Coert laat sy ouers na. Meer besonderhede oor ’n gedenkdiens en begrafnisreëlings word later bekend gemaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.