Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bedelaar omskep middelman in lushof

As hy kon, sou hy die hele stad vol blomme plant.

Petrus Khopolo (“onthou” in Sotho) Ncholu, het 18 jaar lank by ’n verkeerslig by die Oranje Meisieskool in Bloemfontein gebedel, gesels en gesing, en soms sambrele verkoop, tot verlede maand toe hy besluit het om die middelman daar in ’n lushof te omskep.

Hy het op 23 April vanjaar besluit genoeg is genoeg, hy moet iets doen aan die toestand van die middelman op dié hoek by die skool in die hartjie van die stad.

“Ek het gesien hierdie dele word al hoe droër en vuiler, toe besluit ek, kom ons maak iets moois.”

Petrus Khopolo Ncholu het onlangs besluit om die middelman waarby hy jare gebedel het, in ’n lushof met aalwyne, blomme en geharde plante te omskep om die koue winterweer te deurstaan. Foto: Mlungisi Louw

Hy het die harde grond begin omspit met sy graaf en water met ’n emmer van ’n kraan sowat tien meter ver aangedra. Dit is toe dat verbygangers blomme en plante begin skenk het, in plaas van kleingeld.

Motoriste bring nou kort-kort allerlei groen goed vir Ncholu – van reuse-aalwyne, tot hen-en-kuikens, Margaret Roberts-laventel en petunias.

“Blomme is my gunsteling,” sê hy en druk sagkens ’n woestynroos in die grond.

“As ek kon, sal ek blomme oor die stad heen plant.”

Hy woon in ’n sinkhuis in Freedom Square buite die stad saam met sy vrou, agtjarige dogtertjie en vierjarige seuntjie.

“Mense moet asseblief help om plante te bring. Ek wil die stad mooi maak. En kos as hulle dit kan afstaan, want my kinders moet nog steeds eet.”

Hy het eers begin spit, toe kom die plante uit alle oorde. Hoewel drie aalwyne onlangs gesteel is, hou Ncholu aan met plant in Aliwalstraat voor die Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Die omliggende dele, asook die res van die stad, is volgende in sy visier. Foto: Mlungisi Louw

Ansa Lange, wat in Waverleyweg woon, sê Ncholu werk jare reeds aan en af in haar tuin.

“Die dae wat hy nie by my gewerk het nie, het hy by die verkeerslig gestaan.”

Sy sê sy het hom nog nooit sien bedel nie. Hy sal altyd planmaak met iets wat hy verkoop of soms staan hy net en sing.

Sy het eendag gesien hy spit by die middelman en hom gevra of hy plante het hom te plant.

“Toe hy nee sê, het ek vir hom ’n paar aalwyne gebring en ander verbygangers het toe ook plante gebring.”

Ncholu sê blomme is sy gunsteling. Hy het self ’n plan gemaak met ’n verwaarloosde middelman in die hartjie van die stad. Foto: Mlungisi Louw

Sy sê drie aalwyne is al gesteel, maar Ncholu hou aan plant.

“Hy woon in ’n sinkhuisie. As dit reën, spoel die water deur sy huis.”

Volgende in sy visier is die middelman net duskant van die een waaraan hy tans werk. Daarna, die oop stuk veld duskant Aliwalstraat wat na die middestad lei.

“Ons wil mos hê die stad moet ’n lekker plek wees,” sê hy.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Tuinier  |  Middelman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.