Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beesboere verken boerdery in Rusland

Die ministerie van landbou is “baie bekommerd” oor boere wat die land wil verlaat weens die vrese oor grondonteiening sonder vergoeding, en pleit by hulle om dit nie te doen nie.

“Die doel moet grondhervorming is nie om voedselsekerheid en groot, suksesvolle boerderye te ondermyn nie,” het Khaye Nkwanyana, woordvoerder vir Senzeni Zokwana, minister van landbou, gesê.

Nkwanyana se reaksie kom nadat ’n Vrystaatse boeregesin Maandag van ’n besoek aan Rusland teruggekeer het. Die besoek was om onder meer moontlikhede vir boerderye daar vir hulle en nog sowat 30 ander Suid-Afrikaanse boeregesinne te gaan ondersoek.

Drs. Adi en Jann Schlebusch en Therese Schlebusch (links voor op die foto) hier vroeër op ’n mediakonferensie in Stavropol, Rusland. Foto: Verskaf

Dr. Adi Schlebusch, sy pa, dr. Jann Schlebusch, en Adi se suster, Therese Schlebusch, was vir sowat ’n week in Rusland. Die Schlebusch-gesin boer sowat 50 km buite Bloemfontein met Angus-beeste. Schlebusch sr. het ’n doktorsgraad in politieke wetenskappe, en sy seun in teologie.

Volgens Adi het hulle reeds sowat twee jaar gelede begin beplan aan die besoek aan Rusland om “moontlikhede vir hervestiging” daar te gaan ondersoek, maar is daar nou groter dringendheid weens die onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding, asook weens die veiligheidsituasie op plase.

Nkwanyana sê egter die regering sal nie suksesvolle boerderye se grond onteien nie. “Daar is genoeg ander grond wat nie gebruik word nie, en diegene wat dit kry, sal eers moet bewys dat hulle dit produktief gaan bewerk. Ons wil die landbou beskerm, dit lewer ’n massiewe bydrae tot ons ekonomie. Ons het nog meer boere nodig, want hul getalle neem af omdat die jonger geslag ander beroepe begin beoefen.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen dit is verstaanbaar dat boere voelers begin uitsteek as gevolg van die grondhervormingsdebat.

“Die ANC het ’n kultuur van beloftes wat nie gelewer word nie. Hulle het nou die raskaart begin speel deur die Zoeloes te verseker hul grond (onder tradisionele beheer) is veilig. Daarenteen word wit boere gekriminaliseer deur te sê hulle het die grond gesteel, en dat dit sonder vergoeding weggeneem gaan word. Ons het ’n tyd gelede ’n beloning van R100 000 uitgereik vir enigeen wat kan bewys grond is gesteel, maar niemand kon nie. Die ANC is populisties. Ons soek resultate, ons gee nie om of jy swart of wit is nie, ons vra of jy suksesvol kan boer.”

Dr. Adi Schlebusch (met die rooi baard) en sy pa, dr. Jann Schlebusch (langs hom) met hul onlangse besoek aan Rusland by van die Russe met wie hulle gesprekke gevoer het.Foto: Verskaf

Van Zyl waarsku egter daar is baie uitdagings om in ander lande te gaan boer. “Boere moet seker maak hulle doen goed navorsing voor die tyd.”

Adi sê hulle het nie net moontlikhede om te boer in Rusland ondersoek nie, maar ook ander beroepe soos om Engels te onderrig. “Ons kyk ook na beleggingsmoontlikhede vir mense wat nie daarheen wil gaan nie. Taal is ’n struikelblok, maar die herlewing van Christelike waardes in Rusland is aanloklik. Dis anders as in Westerse lande waar God, soos in Suid-Afrika, in die openbare en politieke sfeer uitgeskuif word. Rusland groei ekonomies, die bevolkingsaanwas is bestendig en hulle het min staatskuld. Ons wou simpatie in Rusland wek vir die saak van Suid-Afrikaanse boere.”

Volgens Adi is grondpryse in Rusland baie meer bekostigbaar as in Europa. Hy sê egter met hul besoek van vyf dae aan Stavropol in die suidweste van Rusland het hulle ook bewus geword van talle struikelblokke.

“Boere boer meestal op grond wat deur maatskappye besit word. Meer grond is privaat te koop in die noorde, maar dis baie koud daar. Die ekonomiese mag is in die hande van ’n klein elite groepie.”

Adi sê hulle is gul ontvang, maar mediaberigte in Rusland dat 15 000 Suid-Afrikaanse boere daarheen wil gaan, is oordrewe. “Ons het nooit so iets gesê nie, ons is bewus van 30 Suid-Afrikaanse boeregesinne wat dit oorweeg.”

Nkwanyana sê hulle is baie tevrede met die gesprekke (oor grondhervorming) met Agri SA en beplan om binne die volgende paar weke weer gesprekke met die georganiseerde landbou te voer.

“Ons doen ’n beroep op boere om nie op hol gejaag te word deur ekstremistiese politieke retoriek en vrese wat deur sommige organisasies aangeblaas word nie. Die regering sal nie onredelik wees (met grondonteiening) nie.”

Ndivhuwo Mabaye, woordvoerder vir Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het egter gesê Sisulu is glad nie bekommerd oor boere wat die land wil verlaat nie.


Meer oor:  Tlu Sa  |  Departement Van Landbou  |  Rusland  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.