Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Behr het voor sy dood aan ’n memoir gewerk
Mark Behr

Mark Behr was besig om ’n memoir te skryf en dit is baie jammer dit gaan nie meer gebeur nie, sê sy goeie vriend prof. Gerrit Olivier, ’n voormalige dosent in Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en tans verbonde aan Wits se kunsteskool.

Behr (52) is Saterdag in die Milpark-hospitaal dood. Die oorsaak van sy dood kon Sondag nog nie bevestig word nie.

Behr is die skrywer van drie romans: Die reuk van appels (1993), wat verskeie literêre pryse gewen het, Embrace(2000) en Kings of the Water (2009).

“Behr het ’n komplekse persoonlike geskiedenis gehad, met sy dae as informant vir die regering toe hy ’n student aan die Universiteit Stellenbosch was,” sê Olivier.

“Ek dink dit is baie indrukwekkend dat hy oor die jare so hard daaraan gewerk het om vrede te maak met daardie deel van sy geskiedenis. Om eerlik daaroor te praat.

“In sy romans is daar ’n baie genuanseerde bewustheid van mag – persoonlike mag, seksuele mag, politieke mag – en hoe daardie verskillende vorme van mag met mekaar verstrengel kan raak.”

Behr was ingeskryf vir ’n doktorsgraad aan Wits en was met studieverlof in Suid-Afrika. Hy was ’n dosent aan die Rhodes College in Memphis in die VSA en was ook betrokke by Wits se MA-program in kreatiewe skryfwerk.

Olivier, wat al Behr se romanmanuskripte gelees en hom raad gegee het oor die afronding daarvan, sê skryf was vir Behr ’n baie ernstige saak. Hy was ook ’n goeie leser, insiggewend en krities.

“Hy het studente met respek behandel. Hy het ontsaglik baie bygedra. Ek dink hy was die beste onderwyser in kreatiewe skryfwerk wat ek in my lewe ontmoet het.”

Regter Edwin Cameron sê Behr was ’n hegte vriend en sy dood ’n geweldige skok.

Volgens die skrywer Dominique Botha het Behr haar “regtig aangemoedig” met Valsrivier.

“Wat my van hom beïndruk het, was dat hy nie geskroom het om die kompleksiteite van sy eie verlede aan te spreek nie. Hy het omgegee vir skrywers en literatuur.”

Die digter Antjie Krog se eerste kennismaking met Behr was toe sy in die bruin woonbuurt in Kroonstad skoolgehou het.

“As ons ’n ander soort land was, dan was iemand so buitengewoon begaaf soos Mark Behr een van die gesalfdes,” sê Krog.

Meer oor:  Memoir  |  Afrikaans  |  Skrywer  |  Dood  |  Universiteit Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.