Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende beeldhouer verdrink in Muizenberg
Wyle David Brown, bekende beeldhouer in sy werkwinkel in Woodstock. Foto: Michael Hammond

Een van Suid-Afrika se voorste en bekendste beeldhouers, David Brown (64), het verdrink toe hy gaan branderplankry het.

Menseredders het Brown Vrydagmiddag op Muizenberg se strand bygestaan, maar hy is op die toneel dood, het ’n woordvoerder van die Kaapse stadsraad gesê.

Brown wat in Johannesburg gebore is, het sy hele beroepslewe in Kaapstad gewerk. Hy is bekend vir sy sterk politieke kommentaar en die gebruik van honde as simbole van magteloosheid en aggressie.

Sy vrou is prof. Pippa Skotnes, ’n kunstenaar en kunsdosent aan die Universiteit van Kaapstad. Haar pa is die internasionaal bekende Cecil Skotnes. Skotnes en Brown het ’n seun, Jules.

Brown het ook in 2005 saam met Cecil Skotnes uitgestal, op een van sy vele uitstallings.

Marilyn Martin, kunskenner, sê: “David het só diep gedelf in die samelewing, veral in die euwels daarvan, die donker kant, die mag wat misbruik word. En wat hy voorgestel het, het universele uitdrukking en dit is wat belangrik is – sedert hy in die 1980’s anti-apartheidswerk gedoen het tot vandag toe.”

Sy tegniek was net só besonders, dit is afgerond. Dit was nie saamgeflans nie.

In ’n vroeëre berig oor Brown in Die Burger word Andries Loots op die webwerf van die Kaapse galery 34long aangehaal:

“David Brown het in die moeilikste tyd in die geskiedenis van Suid-Afrika gewerk toe kunstenaars afgesonder is van die res van die wêreld deur sanksies en boikotte. Indien hy dieselfde geleenthede gehad het as die nuwe kunstenaars van vandag, sou hy vir Suid-Afrika gewees het wat Henry Moore vir Brittanje was.”

In sy jongste uitstalling van bronswerke, getiteld 11 Deadly Sinners, het Brown weer sosiale kommentaar op die vergrype aan mag gelewer. Soms was dit erg satiries.

Een van sy grootste multi-werke, Dialogue at the Dogwatch, beslaan 30 m x 11 m en is byna 7 m hoog. Dit het eers in Engeland gestaan, maar is intussen aan die Unviversiteit van Kaapstad geskenk waar dit sedert 2010 op die Middelkampus staan.

Meer oor:  David Brown  |  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.