Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende Bfn-sakevrou sterf op besoek aan Thailand

’n Bekende Bloemfonteinse sakevrou is die naweek op die Phi-Phi-eiland by Thailand dood toe sy in die donker by die see gegly en met haar kop op ’n rots geval het.

Anrike Viljoen (49) en haar man, Herman, wat Sondag sy 50ste verjaardag gevier het, het dié dag langs die see gaan stap toe die treurspel plaasgevind het.

Die egpaar was met vakansie in Thailand en was nog net twee dae daar.

Die Bloemfonteinse sakevrou Anrike Viljoen (49) wat in Thailand dood is. Die foto is twee dae voor haar dood op die vliegtuig geneem. By haar is haar man, Herman, wat Sondag op die dag dat sy dood is, 50 geword het.

Anrike het ’n dag voor haar dood nog vir ’n Bloemfonteinse vriendin vertel hoe gelukkig sy in Thailand is en hoe mooi dit daar is.

Anrike se pa, Phanus Zondagh, voorheen ’n bekende Bloemfonteinse ontwikkelaar, sê hy gaan sy dogter geweldig mis. Sy was altyd sy regterhand en steunpilaar in sy onderneming.

“Sy laat ’n groot leemte, maar nou sal ons die pad vorentoe sonder haar moet stap.”

Zondagh sê wat hy van sy skoonseun verstaan, is dat hy en Anrike langs die see gaan stap het. Met hul terugkeer het dit hoogwater geword en het die see oor die rotse gespoel waaroor hulle vroeër die dag gemaklik gestap het.

Dit was reeds donker toe sy geval en haar kop gestamp het. Sy was onmiddellik dood.

Zondagh sê Anrike sal nou in Thailand veras word.

Haar en Herman se jongste dogter, Yolanda, wat onlangs in China gaan skoolhou het, en haar man, Duane Stones, het nou na Thailand gevlieg om Herman met die verassing by te staan. Ná die verassing sal die oorskot na Bloemfontein gebring word.

Zondagh sê hy is bekommerd oor sy skoonseun wat ’n diabeet is en wat van die skok siek geword het.

Zondagh en sy vrou, Lettie, wat in Glentana in die Suid-Kaap afgetree het, sê Anrike het nog na hul sakebelange in Bloemfontein omgesien.

Sy onderneming SCZ Eiendomme was onder meer betrokke by die ontwikkeling van die Loch Logan-waterfront, die Oubos-landgoed en die Protea Hotel Bloemfontein Willowlake, almal in die Rosestad.

Anrike het ook haar eie sakeonderneming en het onder meer trou- en blommemeisierokke en matriekafskeidrokke asook bykomstighede verkoop en verhuur.

Anrike word oorleef deur Herman en hul vier kinders, Marike, Yolanda en Drieka, wat al drie getroud is, en hul laatlam FP, ’n leerling in gr. 7 aan Grey-kollege (primêr), asook vyf kleinkinders.

Vriende van Anrike het haar gehuldig vir haar onbaatsugtige liefde en ondersteuning van mense. Sy word beskryf as iemand wat altyd gehelp en ondersteun het waar sy kon en altyd vir ander raad gegee het. Sy het ook altyd die ekstra myl vir haar kinders en kleinkinders geloop.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Thailand  |  Sakevrou  |  Besoek  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.