Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende boer van Dewetsdorp sterf aan Covid-19

Nog ’n boer van die Dewetsdorp-distrik is aan Covid-19 dood.

Whellan Simkin (74) van die plaas Bellevue het Maandag in die Mediclinic Bloemfontein gesterf. Hy is een van verskeie boere en inwoners van die dorp wat aan die virussiekte dood is.

Simkin, wat die oudste Suid-Afrikaanse vleismerinostoetery in die land sedert 1948 gehad het, was veral bekend in vleismerino-kringe.

Whellan Simkin
Whellan Simkin (74), bekende en leierboer van die plaas Bellevue in die Dewetsdorp-distrik, is aan Covid-19 dood. By hom is sy vrou, Amanda.

Sy pa was die politikus en parlementslid, Charlie Simkin.

Simkin se seun, ook Charlie, ’n rekenmeester van Bloemfontein, sê hy was 14 jaar lank die president van die Vleismerinogenootskap van Suid-Afrika en het baie jare op vleismerinoskoue en -kampioenskappe beoordeel. Hy was vir baie boere ’n mentor

Hy was ’n jare lange raadslid van die Suid-Afrikaanse Stamboekvereniging in Bloemfontein.

Charlie sê sy pa was baie geliefd in die boeregemeenskap in Dewetsdorp en hy was gek na reis en toer. Hy was ’n fanatiese gholfspeler en was mal oor die natuur.

“Sy grootste passie was om saam met my ma (Amanda) te toer en te reis. Hulle het gereeld Europa en die Serengeti besoek.”

Hulle het ook graag na die Krugerwildtuin gegaan oor hul liefde en passie vir die natuur en sy besonderse wildlewe.

“Hy het ’n baie, baie goeie humorsin gehad en het altyd grappies gemaak en almal laat lag,” sê Charlie.

“Eerlikheid is my moeilikheid,” was sy leuse.

Simkin word deur Amanda, Charlie en sy vrou, Grethe, twee dogters, Loré Dippenaar en haar man, Leon, en Marike Simkin, asook vier kleinkinders, Leon-Henry (15) en Nina Dippenaar (13) en Charl (10) en Nike Simkin (13), oorleef.

Hy het ’n baie, baie goeie humorsin gehad en het altyd grappies gemaak en almal laat lag.

’n Troosdiens word Vrydag om 11:00 in die NG kerk Dewetsdorp gehou. Alle Covid-19-regulasies sal gevolg word en net 50 mense sal diens kan bywoon. Dit kan egter ook aanlyn gevolg word.

Ds. Horace van Coller van die NG kerk op Dewetsdorp sê hy het sedert November al 14 begrafnisse op die dorp gehou. Baie daarvan was Covid-19-stertes.

“Ek het Whellan Simkin goed geken. Hy was ’n welgestelde, maar baie nederige mens. Hy was ook ’n baie goeie mens. Hy was ’n topman en het lank in die kerkraad gedien, en hy was tot met sy dood lid van die kerk se finansiële bestuur.”

Hy was baie jare betrokke by die bestuur van die dorp se gholfklub.

“Toe die gholfbaan se oppervlak oorgedoen is, het hy baie hulp verleen en veral met sy kennis van die landbou, kunsmis en gif kon hy kundige raad gee en help.

“Sy vrou se broer, prof. Theo van Rooyen, van die departement grondkunde aan Unisa is ook twee weke gelede aan Covid-19 dood.”

Ander Dewetsdorp-boere wat vanjaar aan Covid-19 dood is, is Gert Pienaar (82), Dries van Tonder (76), en Kobus van Tonder (68), ’n deeltydse boer van Dewetsdorp, oor wie Netwerk24 almal berig het.

Inwoners van Dewetsdorp wat aan die virussiekte dood is, is onder andere Johan van der Merwe (82), wat vroeër by die Jimmy Roos-skool in Dewetsdorp gewerk het, en Lena Barnard, (82), asook Anzel Smit (53).

Carl Knauff, (72), ’n bekende sakeman van die dorp, is tydens die inperking aan sy hart dood.

Meer oor:  Vrystaat  |  Dewetsdorp  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.