Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende fliekmaker doodgery in Johannesburg
JJ Volmink en sy vrou, Kristie, in 2014. Foto: Facebook/JohnVolmink

“Ons het Sondagaand ’n afspraak gehad om uit te eet. Hy wou graag met my praat en ek kon nie in die week nie. Toe vind ek hom in die lykshuis en nie in die restaurant nie,” sê ’n emosionele prof. John Volmink.

Volmink se seun met dieselfde naam, John “JJ” Volmink, is Vrydagaand doodgery toe hy van die Rosebank-winkelsentrum in Johannesburg na sy huis in die omgewing gestap het.

Volmink sr. is die voorsitter van Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, en hy is einde verlede jaar as die waarnemende visekanselier van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) aangestel.

JJ (33) was ’n bekende Suid-Afrikaanse rolprent- en TV-programvervaardiger.

Volgens Volmink het ’n motorryer na bewering ’n verkeerslig verontagsaam en sy seun getref.

Die polisie ondersoek die voorval.

Volmink, wat in Kaapstad woon, sou die naweek Johannesburg toe vlieg om sy seun te besoek. Pleks daarvan moes hy begrafnisreëlings gaan tref.

JJ se vrou, Kristie, is volgens hom in geen toestand om enigiets te reël nie.

Ek het nog nooit so ’n pragtige kind gesien nie en nou stap sy rond met haar speelgoedtelefoon en vra heeltyd ‘Pappa, waar’s jy?’
Prof. John Volmink

JJ en Kristie het ’n 3-jarige dogter, Hannah. “Ek het nog nooit so ’n pragtige kind gesien nie en nou stap sy rond met haar speelgoedtelefoon en vra heeltyd ‘Pappa, waar’s jy?’,” sê Volmink.

JJ het Vrydagaand ’n vergadering bygewoon nadat hy van ’n rolprentfees in Berlyn teruggekeer het. “Hy het sy vrou gebel toe hy wegstap van die Rosebank-winkelsentrum af en toe hy die straat kruis op die hoek van Jellicoe en Cradock, het ’n laaitie gekom,” sê Volmink. “Hy kon nie stop nie. Sy kar is so beskadig dis afgeskryf. My seun se foon was in sy liggaam ingepers.

“Dis asof iemand my in die hart gesteek het,” sê Volmink, wat ook sy vrou drie jaar gelede verloor het.

“Dis vir my so ’n verskriklike pyn. As ek net ’n waarskuwing gehad het dat dit sou gebeur. Hy was nie siek nie, ek het dit nie gesien kom nie.

“Dis vir my so onregverdig wat gebeur het. Speed kills and it kills beautiful people.”

’n Begrafnisdiens vir JJ, wat in Amerika gebore is, word Saterdag in St. John’s College in Johannesburg gehou en talle bekendes uit die rolprent- en televisiebedryf word verwag. Nóg ’n herdenkingsdiens sal volgende Saterdag in die His People Church in N1 Stad in Bellville gehou word.

JJ was een van die stigters van Diprente Films en het die Emmy-benoemde Late Nite News with Loyiso Gola vervaardig, Blitz Patrollie, The Bantu Hour met Hugh Masekela, en ook die vollengte-fliek Catching Feelings met Kagiso Lediga, Pearl Thusi, Akin Omotoso en Andrew Buckland, wat eersdaags bekend gestel word.

Meer oor:  Rosebank  |  Johannesburg  |  Doodgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.