Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende leier en filantroop oorlede

Die gemeenskap van Distrik Ses treur ná die dood van ’n bekende anti-apartheid- en menseregte-aktivis, sakeman, gemeenskapsleier en filantroop.

Boodskappe van medelye het ingestroom vir die familie van dr. Anwah Nagia (62), stigter van die Distrik Ses-museum en ’n entrepreneur wat aan die hoof gestaan het van talle gemeenskapsprojekte en organisasies.

’n Plaaslike radiostasie, Voice of the Cape, berig Nagia het Maandag hartchirurgie ondergaan en ook Covid-19 onder lede gehad, waarna hy weens komplikasies gesterf het.

“Anwah het Distrik Sessers verenig sodat hulle as ’n groep ’n grondeis kon instel om te verseker dat die gemeenskap as ’n geheel na hul geboorteplek sal kan terugkeer,” lui ’n inskrywing op die museum se Facebook-blad.

“Sy visie het verseker dat daar ’n gesamentlike terugkeer na die grond sal wees. Die pad vorentoe hou steeds baie uitdagings in. Rus in vrede, Anwah.”

Dr. Anwah Nagia (62)Foto: Facebook/Awqaf SA

’n Diens vir hom word Dinsdag in die Zeenatul-moskee in Muirstraat in Distrik Ses gehou.

Nagia was betrokke by verskeie organisasies, onder meer as voorsitter van die District Six Beneficiary and Redevelopment Trust. Hy het ook in die senaat en raad van die Universiteit van Wes-Kaapland gedien.

Hy was die voorsitter van die Mustadafin-stigting en verskeie ander nie-regeringsorganisasies, en is in 2005 deur Trevor Manuel, destydse minister van finansies, aangestel as ’n direkteur van die Raad op Finansiële Dienste. Hy het gereeld sportspanne geborg om oorsee te gaan speel en het op jeugontwikkeling gefokus.

“Die Moslem Juridiese Raad is hartseer oor die nuus van die afsterwe van Nagia,” lui ’n inskrywing op hul Facebook-blad. “Hy was ’n dierbare vriend van die raad, ’n staatmaker in die Palestynse Solidariteitsbeweging en ’n humanis wie se vriendelikheid die lewe van baie geraak het.”

Die Distrik Ses-werkkomitee (D6WC) het ook in ’n verklaring gesê sy dood kom as ’n skok. “Hoewel die D6WC en die Trust elkeen sy eie weg gevolg het om die saak van restitusie vir die mense van Distrik Ses te bevorder, is albei organisasies gelei deur passievolle en inspirerende leiers wat hul lewe aan Distrik Ses gewy het.

“Die voorsitter van die D6WC, Shahied Ajam, is in Junie oorlede, terwyl Nagia Maandag oorlede is. Nagia se dood is nóg ’n groot verlies vir die mense van Distrik Ses.”

Die Imam Haron-stigting, in die naam van die apartheidsaktivis imam Abdullah Haron, het op Facebook gesê hy is diep bedroef oor Nagia se dood. “Die armes en stemloses het ’n held verloor,” lui die inskrywing.

Nagia word oorleef deur sy vrou, Fadielah, sy seun, Kamil, en sy dogter, Amal.

Meer oor:  Distrik Ses  |  Anwah Nagia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.