Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende Kaapse fotograaf sterf aan Covid-19

Enver Essop, bekende voormalige fotograaf van Die Burger, is Dinsdag in sy huis in Goodwood dood nadat hy meer as 'n week gelede positief vir Covid-19 getoets is.

Die 54-jarige Essop was die eggenoot van die politieke verslaggewer Philda Essop, wat tans ’n redaksionele inhoudsbestuurder van Netwerk24 is.Essop het blykbaar gesukkel om asem te haal en is dood voordat die ambulans by sy huis aangekom het.

Hy is Dinsdagmiddag volgens die Moslem-tradisie ter ruste gelê.

Essop se dood het die mediabedryf in Kaapstad swaar getref en medelye het ingestroom vir ’n man wat as ’n “sagmoedige reus” beskryf is.

Esa Alexander, fotograaf van die Sunday Times en ’n oudkollega van Essop, sê hy was veral bekend om sy passie vir kos en kook.

Enver Essop, bekende Kaapse fotograaf, wat Dinsdag ná ’n kort siekte dood is. Foto: Verskaf

“Hy was ’n ware vriend, ’n man van min woorde, ’n pragtige siel met ’n hart van goud. Ons het gereeld Vrydae ná djoemoea (die Moslems se weeklikse middaggebed) by sy huis gaan eet. Dit was die beste breyani in Woodstock,” sê Alexander.

Die sportfotograaf Roger Sedres sê diegene wat Essop goed geken het, sal weet dat hy nooit kwaad kon raak nie.

“Ek het in 1995 by Die Burger begin werk en Enver het gou ná my daar begin. Ons het saam met Christo Lotter en Brandon Amronski gewerk. Enver het die fotografiespan voorgestel aan sy ma se wonderlike roti en kerrie.”

Sedres sê Enver was ’n saggeaarde, intelligente reus wat baie spontaan was.

“Hy het op ’n dag besluit hy gaan begin oefen en toe koop hy ’n fiets en begin van sy huis in Woodstock fietsry werk toe. Dit was nie lank daarna nie toe ontmoet hy vir Philda Nicholas, die liefde van sy lewe. Sy het toe ook by Die Burger gewerk.

“Daar is soveel goeie herinneringe. Dit is inderdaad ’n baie hartseer dag vir ons almal in die fotografie-wêreld in Kaapstad.”

Sedres sê Enver was ’n goeie vriend, man en pa vir sy kinders. “Dankie vir die goeie herinneringe. Gaan jou goed en rus nou. Sien jou aan die ander kant.”

Die vryskutfotograaf Brenton Geach het gesê hy en Essop het mekaar 25 jaar lank geken.

“Enver was ’n goeie ou, ons het altyd vir mekaar uitgekyk en ons het baie gelag as ons op stories was. Ons het twee dae gelede gesels. Hy was meer bekommerd oor my, wat ’n maagkwaal het, as oor homself. Hy was tot op sy laaste meer bekommerd oor ander as oor homself.”

Verskeie vriende en kollegas het op sosiale media hulde aan Essop gebring.

Die fotograaf Fanie Jason het sy hartseer uitgespreek en gesê Essop was sy jare lange Facebook-vriend, terwyl die joernalis Zenzile Khoisan gesê het daar is geen woorde om die leemte en verlies te beskryf wat Essop se dood vir sy kollegas en familie inhou nie.

Essop word oorleef deur sy vrou en hul twee kinders, Imaan en Zaid.

Meer oor:  Die Burger  |  Enver Essop  |  Kaapstad  |  Fotograaf  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.